Nuus 09:00
BULLETIN 30 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Sleutelsektore van die ekonomie bly agter in die nakoming van swart bemagtiging
# Die regering is verbind tot veilige en funksionele openbare infrastruktuurprojekte
# En die dodetal na die aardbewing in Japan het tot 30 gestyg
# Suid-Afrika het die afgelope dekade vordering gemaak wat swart ekonomiese bemagtiging betref, maar hervorming is sedert die Covid-19-pandemie stadiger. Dis volgens die Kommissie vir Ekonomiese Bemagtiging se jongste verslag wat gebruik maak van bemagtigingstelkaarte en nakomingsverslae van instellings in die openbare en privaat sektor. Die eiendomsektor doen die swakste met nienakoming van 67-persent, gevolg deur finansiële dienste en landbou. Hierdie sektore haal nie minimum eienaarskap vir swart mans en vroue nie. Sektore soos konstruksie en vervoer doen die beste.
# Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, sê die departement het ‘n verbintenis om openbare infrastruktuurprojekte doeltreffend te lewer, aan die vereiste standaarde te voldoen, en funksionele, veilige en moderne fasiliteite vir regeringsdienslewering te bied. Hy het gister die nuwe kantoorgebou vir die Departement van Indiensneming en Arbeid in Rissikstraat 4, Johannesburg, inspekteer. Zikalala het beklemtoon akkommodasie wat deur die regering verskaf word, moet vir gebruik geskik wees:
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra dat ‘n gekwalifiseerde, bevoegde uitvoerende hoof onmiddellik aangestel word om oor te neem en die situasie by die Tembisa Provinsiale Tersiêre Hospitaal te beredder. Dit volg na berigte van wanbestuur van staatsbates, blatante nalatigheid en agterlosigheid, en onbelangstellende bestuur. Die vakbondwoordvoerder, Claude Naicker, sê dis ontstellend dat die hospitaalbestuur mediese voorrade en toerusting in stoorplekke wat nie behoorlik kan sluit nie, opgaar tot dit verval en dan sonder die nodige protokolle daarvan ontslae raak:
# Die dodetal na die aardbewing van 6,8 wat die suide van Japan Dinsdag getref het, het tot 30 gestyg terwyl reddingswerkers onverpoosd probeer om oorlewendes onder die puin te vind. Minstens 62 mense is beseer in die aardbewing wat die Kumamoto-prefektuur op die eiland Kyushu getref het, waar meer as 100 naskokke voorgekom het. Reddingswerkers soek steeds deur die puin van die Aeon-winkelsentrum en ʼn papierfabriek. Amptenare sê hoë temperature maak reddingspogings moeiliker. Sowat 36-duisend-700 huishoudings is sonder elektrisiteit.
# Sokker: FIFA het 19 September as sperdatum vasgestel waarop al 211 lidverenigings sy omstrede plan, om aandele in sy groot kompetisies te verkoop, moet goedkeur. FIFA wil volgens berigte vanjaar sowat 70,35-miljard-rand insamel deur ʼn 20-persent minderheidsaandeel te verkoop in ʼn nuwe dogtermaatskappy, FIFA Forward Enterprise, teen ʼn aandele-waardasie van ongeveer 334,46-miljard-rand. FIFA-president Gianni Infantino het die plan verdedig en noem dit ʼn aanbod, nie ʼn verpligting nie:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 23-rand-23-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-29-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-52-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….