Nuus 07:00
BULLETIN 30 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF ondersteun die besluit om nie die samestellers van die Phala Phala-verslag te roep nie
# Die DA sê die Tshwane-hofstryd is ‘n stryd teen staatskaping
# En Olimpiese Spele: Oekraïne appelleer teen die Olimpiese Komitee se besluit om Rusland toe te laat
# Die parlementêre Ampsklagkomitee het besluit dat die lede van die onafhanklike Artikel 89-paneel wat die Phala Phala-verslag saamgestel het, nie voor hom sal verskyn nie. Dit volg na regsadvies dat dié stap sy grondwetlike rol onder verdenking kan bring. Die paneel onder voorsitterskap van oudregter Sandile Ngcobo het bevind president Cyril Ramaphosa moet wel vrae beantwoord oor die 2020 Phala Phala-skandaal. Omphile Maotwe van die EFF ondersteun die komitee se besluit en sê die paneel het sy mandaat voltooi:
# Drie presidensiële raadgewende liggame sê te midde van toenemende geopolitieke onsekerheid moet Suid-Afrika ontplooiing van hernubare energie versnel, transmissie-infrastruktuur uitbrei en hervorming van die elektrisiteitsmark bevorder. Die konflik in die Midde-Ooste het die wêreld-ekonomie ontwrig, en weens die sluiting van die Straat van Hormoes energie-voorsiening belemmer. Die Presidensiële Klimaatkommissie, die Nasionale Beplanningskommissie en die president se Ekonomiese Adviesraad het verskeie korttermyn-prioriteite geïdentifiseer. Dit sluit in ekonomiese bestendigheid, bespoediging van energiesekerheid-hervormings, bevordering van mededinging in die elektrisiteitsektor en hantering van strukturele ongelykheid.
# Die DA sê sy dringende hofaansoek teen die skorsing van Tshwane se stadsbestuurder, Johann Mettler, gaan oor die beskerming van die oppergesag van die reg en die voorkoming van politieke inmenging in die stad se administrasie. Die party voer aan die Hooggeregshof in Pretoria moet die raad se besluit tersyde stel, aangesien dit aanspreeklikheid ondermyn. Cilliers Brink van die DA sê die verwydering van Mettler aan die begin van die munisipale boekjaar kan toesig oor openbare besteding en verkryging verswak:
# Tiger Brands het meer as 200-miljoen-rand belê om sy geskiedkundige Paarl-fasiliteit in die Wes-Kaap te omskep in ‘n nuwe kulinêre mega-terrein wat plaaslike vervaardiging sal bevorder en die aanbod van sy ikoniese voedselhandelsmerke verbeter. Die verbeterde perseel sluit nou ‘n asynproduksie-aanleg, interne produksie van Mrs Ball’s Blatjang en nuwe herwinbare verpakking vir sy konfytprodukte in. Die maatskappy sê die belegging is deel van sy breër strategie om plaaslike produksie te versterk, doeltreffendheid te verbeter en langtermyngroei te ondersteun.
# Die Verenigde Nasies se Internasionale Organisasie vir Migrasie waarsku honderde duisende mense word elke jaar bedrieg deur beloftes van wettige werk in die buiteland, maar dan gevange gehou en by aanlyn bedrog-operasies betrek. Slagoffers van meer as 80 lande word deur vals werkaanbiedinge op sosiale media na swendelsentrums gelok. Verliese deur swendelary het in 2025 in Oos- en Suidoos-Asië, Australië en Nieu-Seeland ‘n geraamde 1,91-duisend-miljard-rand beloop. Amy Pope van die organisasie sê hulle het meer as drie-duisend-500 mense van 33 lande bygestaan:
# Olimpiese Spele: Oekraïne het by die Hof vir Arbitrasie in Sport geappelleer teen die Internasionale Olimpiese Komitee se besluit om Rusland voorwaardelik by sy kompetisies toe te laat. Die IOK het vroeër vandeesmaand sy sanksies teen Russiese atlete opgehef wat sedert die vroeë fases van Moskou se oorlog teen Kiëf in 2023 van krag was. Dit laat Russiese atlete toe om hulle land by die 2028 Olimpiese Spele te verteenwoordig. Oekraïne se Nasionale Olimpiese Komitee sê die IOK se besluit is voortydig en skend die Olimpiese Handves.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-19-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-116-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-88-dollar-75-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 91-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….