Nuus 16:00
BULLETIN 29 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die tyd raak min vir kiesersregistrasie voor die plaaslike regeringsverkiesing
# Een-en-twintig leerders is beseer in ‘n leerdervervoer-ongeluk in Ekurhuleni
# En rugby: Ackermann sien uit na die Bulle se kragmeting met die All Blacks
# Die Verkiesingskommissie is gereed vir Saterdag en Sondag se laaste spesiale kiesersregistrasienaweek voor die plaaslike regeringsverkiesing van 4 November. Meer as 23-duisend-600 stempunte is beskikbaar en meer as 48-duisend amptenare sal ontplooi word om kwalifiserende kiesers te help registreer, hul besonderhede by te werk of inligting te bevestig. Die hoofverkiesingsbeampte, Sy Mamabolo, vra Suid-Afrikaners om te registreer waar hulle woon om te verseker hulle stem in die regte wyk:
# Een-en-twintig laerskoolkinders is beseer toe ‘n leerdervervoer-voertuig en ‘n ligte motorvoertuig vanoggend op die M7 naby Katlehong in Gauteng gebots het. Noodspanne het alle insittendes op die toneel behandel voor hulle na nabygeleë hospitale geneem is. Die woordvoerder van Ekurhuleni se Ramp-en-noodbestuursdienste, William Ntladi, sê vier leerders het ernstige beserings opgedoen, maar is in ‘n bestendige toestand. Hy sê twee leerders wat gewag het vir hul vervoer is ook beseer:
Nuus uit die buiteland:
# Die wêreld kan ‘n herlewing van die MIV-epidemie beleef nadat befondsing vir MIV-programme verlede jaar met 18-persent afgeneem het, die laagste vlak in byna twee dekades. Dit is volgens ‘n verslag deur die Verenigde Nasies se VIGS-program wat vrygestel is tydens die opening van die internasionale VIGS-konferensie in Rio de Janeiro, Brasilië. Die organisasie sê internasionale befondsing vir MIV-programme het in 2025 tot 121,97-miljard-rand gedaal teenoor 147,03-miljard-rand die vorige jaar, en waarsku die afname kan pogings belemmer om VIGS teen 2030 as ‘n bedreiging vir openbare gesondheid te beëindig.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle kragmeting met die All Blacks sal die perfekte voorbereiding wees vir hulle seisoen. Nieu-Seeland skop volgende Vrydag sy toer in Kaapstad af teen die Stormers en pak die Bulle op 15 Augustus in Pretoria. Ackermann sê dié wedstryd het veroorsaak dat hulle hul voorbereidings vir die Verenigde Rugbykampioenskap moes aanpas om te verseker dat hulle gereed is vir die All Blacks. Hy sê die wedstryd sal ‘n ondervinding van onskatbare waarde wees, veral vir die jonger spelers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-28-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-263-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-20-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag gaan luitenant-generaal Thembelani Xundu Vrydag amptelik aanstel as sy nuwe personeelhoof tydens ‘n ampswisseling-seremonie. Die geleentheid is die formele oorhandiging van pligte na die aftrede van luitenant-generaal Michael Ramantswana. Xundu aanvaar ‘n sleutelleierskapsrol wat verantwoordelik is vir strategiese koördinering en administratiewe toesig binne die Weermag. Senior militêre leiers en regeringsamptenare sal na verwagting die seremonie bywoon.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….