Nuus 15:00
BULLETIN 29 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrea Johnson gee toe Masemola is verkeerdelik ingesluit in Matlala se Medicare24-saak
# Sizakhele Dyantyi is aangestel as die nuwe Wes-Kaapse polisiekommissaris
# En rugby: Ackermann sien uit na die Bulle se kragmeting met die All Blacks
# Die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, het toegegee die geskorste nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, moes nie saam met die omstrede sakeman Vusimuzi “Cat” Matlala en ander beskuldigdes in die Medicare24-korrupsiesaak aangekla gewees het nie. Die voorsitter van die Madlanga-kommissie het haar ondervra. Mbuyiseli Madlanga sê die aanklagte teen Masemola ingevolge die Wet op Openbare Finansiële Bestuur is afsonderlik van die bedrog- en korrupsie-aanklagte teen die ander beskuldigdes:
# Luitenant-generaal Sizakhele Dyantyi is aangestel as die nuwe Wes-Kaapse polisiekommissaris. Hy volg luitenant-generaal Thembisile Patekile op, wat verlede maand ná vier dekades afgetree het. Dyantyi het in 1992 aangesluit by die Suid-Afrikaanse Polisiediens en daarna verskeie senior leiersrolle beklee. Hy begin Saterdag amptelik in die posisie. Dyantyi sê hy sal bewysgedrewe wetstoepassing versterk, met die fokus op veiligheid in gemeenskappe:
# Die landbou-organisasie TLU SA steun Graan SA se teenkanting teen die voorgestelde sojaboon-liggingsaanpassing en waarsku dit kan boere se inkomste onregverdig verminder. Dit is ‘n prysaanpassing wat verband hou met waar gewasse ontstaan en die afstand na afleweringspunte. Die organisasie se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê produsente moenie bykomende finansiële laste dra wat die volhoubaarheid van graanboerdery bedreig nie:
# Nooddienste is op hoë gereedheidsgrondslag terwyl erge weer KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap steeds tref. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ‘n oranje vlak 6-waarskuwing vir ontwrigtende reënval en oorstromings bly van krag vir dele van KwaZulu-Natal. Die Oos-Kaap is terselfdertyd onder ‘n oranje vlak 5-waarskuwing vir ontwrigtende sneeuneerslae. Die Weerdiens vra inwoners om onnodige reise te vermy, weerinligting te monitor en voorsorgmaatreëls te tref terwyl noodspanne reageer op oorstromings en sneeuverwante ontwrigting.
# Rugby: Die Bulle se afrigter, Johan Ackermann, sê hulle kragmeting met die All Blacks sal die perfekte voorbereiding wees vir hulle seisoen. Nieu-Seeland skop volgende Vrydag sy toer in Kaapstad af teen die Stormers en pak die Bulle op 15 Augustus in Pretoria. Ackermann sê dié wedstryd het veroorsaak dat hulle hul voorbereidings vir die Verenigde Rugbykampioenskap moes aanpas om te verseker dat hulle gereed is vir die All Blacks. Hy sê die wedstryd sal ‘n ondervinding van onskatbare waarde wees, veral vir die jonger spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-459-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-32-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….