Nuus 14:00
BULLETIN 29 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Senzo Meyiwa se ma woon die eerste keer in 12 jaar die verhoor van sy vermeende moordenaars by
# ‘n Hofskikking versterk kinderbeskerming in skole
# En swaar sneeu ontwrig verkeer in dele van die Oos-Kaap
# Die verhoor van die vermeende moorenaars van die voormalige Bafana Bafana-kaptein, Senzo Meyiwa, het hervat in die Hooggeregshof in Pretoria, met sy ma, Ntombifuthi Meyiwa, wat dit die eerste keer in 12 jaar bywoon. Sy is vergesel deur die hoof van AfriForum se eenheid vir privaat vervolgings, Gerrie Nel, wat nou die gesin verteenwoordig. Meyiwa het voorheen gesê sy is nie oortuig dat die beskuldigdes haar seun vermoor het nie. Sy sê sy bly hoopvol die regsproses ontbloot die waarheid en dat geregtigheid vir Senzo sal geskied.
# Die Teddiebeer-stigting en SECTION27 verwelkom ‘n hofgoedgekeurde skikking gemik op die versterking van kinderbeskerming in skole. Dit vereis dat die Departement van Basiese Onderwys en provinsiale Onderwysdepartemente alle werknemers teen 31 Maart volgende jaar moet nagaan teen die Nasionale Kinderbeskermings-register, en verseker ongeskikte persone word nie aangestel in posisies waar hulle met kinders kontak het nie. ‘n Woordvoerder, Gillian Pillay, sê die maatreëls sal kinders se reg op veiligheid, waardigheid en basiese onderwys help beveilig, en toerekenbaarheid verbeter.
# Die Oos-Kaapse Departement Vervoer vra motoriste om uiters versigtig te wees terwyl swaar sneeu, reën en swak sig steeds verskeie roetes in die provinsie raak. Woordvoerder Unathi Binqose sê aktiewe sneeuneerslae is aangemeld op die R56 tussen Matatiele en Mount Fletcher, terwyl die R58-pad tussen Lady Grey en Ekhepini swaar sneeu, mis en nat pad-oppervlaktes ondervind :
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, bly skepties oor enige moontlike ooreenkoms met Iran. Die ooreenkoms van verstandhouding vir 60-dae wat Iran en Amerika verlede maand onderteken het en die heropening van die Seestraat van Hormoes insluit, het binne weke in duie gestort toe die twee lande aanvalle hervat het. Netanyahu sê enige ooreenkoms moet nie net aandag gee aan Iran se kernprogram nie, maar ook aan ballistiese missiele:
# Sokker: Roberto Mancini neem die tweede keer die leisels van Italië oor nadat hy ingestem het om Gennaro Gattuso op te volg, wat in April vertrek het nadat die land weer nie vir die Wêreldbekertoernooi gekwalifiseer het nie. Die president van die beheerliggaam, Giovanni Malago, het ook bevestig dat Claudio Ranieri as tegniese direkteur sal oorneem. Mancini het Italië tussen 2018 en 2023 vir 58 wedstryde afgerig en die span in 2021 na die Europese Kampioenskapstitel gelei. Hy het daarna spanne in in Saoedi-Arabië en Katar afgerig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-591-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-30-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….