Nuus 09:00
BULLETIN 29 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Herman Mashaba sê die regering moet die grense beveilig en immigrasiewette afdwing
# Twee vermeende onwettige mynwerkers is doodgeskiet deur die polisie
# En Netanyahu sê sy ontmoeting met Trump was een van hulle beste gesprekke
# ActionSA se leier, Herman Mashaba, sê Suid-Afrika het ‘n regering nodig wat die landsgrense kan beveilig, immigrasiewette afdwing en seker maak mense wat onwettig in die land is, word volgens wet hanteer. Die regering het sy optrede teen onwettige migrasie en verwante misdade verskerp, met meer as 68-duisend buitelanders wat sedert Junie vir repatriasie of deportasie verwerk is. ActionSA se woordvoerder, Omogolo Taunyane, sê Suid-Afrika moet ook ʼn grondwetlike demokrasie bly wat menswaardigheid en die oppergesag van die reg respekteer:
# Die gewese hoof van die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap, Lucky Montana, beskryf die Spesiale Ondersoekeenheid se tussentydse bevel teen hom as “onsinnig”. Die Spesiale Tribunaal het ʼn tussentydse bewaringsbevel aan die eenheid toegestaan om twee van Montana se eiendomme van meer as 15-miljoen-rand te vries. ʼn Ondersoek het ʼn geld-spoor ontbloot wat die eiendomme verbind met PRASA se omstrede 5,6-miljard-rand tender vir ʼn geïntegreerde sekuriteitstoegang-bestuurstelsel. Montana staan die tussentydse bevel teen en beskuldig ondersoekbeamptes en wetstoepassingsagentskappe dat hulle sedert 2016 polities gemotiveerde sake teen hom voer.
# Polisie in Gauteng ondersoek twee aanklagte van moord, poging tot moord en besit van onwettige vuurwapens en ammunisie. Dit volg na gister se skietery tussen vermeende onwettige mynwerkers en die polisie in Roodepoort, wes van Johannesburg. ʼn Polisiewoordvoerder, Tintswalo Sibeko, sê hulle het gereageer op berigte van ʼn skietery op ʼn oop veld in Roodepoort, toe die Zama Zamas op die polisie losbrand. Sy sê hulle het teruggeskiet en twee verdagtes is dood:
# Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, beskryf sy ontmoeting met president Donald Trump van Amerika as “een van die beste gesprekke” wat hulle nog gehad het. Die twee leiers het gister agter geslote deure by die Withuis vergader, die eerste keer sedert die gesamentlike oorlog teen Iran begin het. Die Withuis sê die ontmoeting was positief en produktief. Netanyahu het aan Fox News gesê sy verhouding met Trump is sterk, en bygevoeg hulle het ʼn gemeenskaplike doelwit teen Iran:
# Sokker: Frankryk se pas-aanstelde nuwe hoofafrigter, Zinedine Zidane, sê hy is oorstelp nadat hy ‘n jarelange droom kon verwesenlik. Hy volg Didier Deschamps op, wat na die Wêreldbekertoernooi na 14 jaar vertrek het. Die 54-jarige Zidane het tussen 1994 en 2006 108 wedstryde vir Frankryk gespeel en word beskou as die land se beste speler ooit. Hy het die Spaanse reus Real Madrid voorheen afgerig en tussen 2016 en 2018 na drie agtereenvolgende Kampioeneliga-titels gelei, maar sê die Franse afrigtingspos is die enigste wat hy ooit wou hê.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-713-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-23-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-85-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….