Nuus 17:00
BULLETIN 28 Julie 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie ondervra Andrea Johnson oor ‘n davaardiging vir die Taakspan vir Politieke Moorde
# Die Bedrogvoorkomingsdiens waarsku oor belastingbedrog
# En, ‘n Vlak 6-weerwaarskuwing word vir KZN uitgereik namate die gevaar van swaar reën toeneem
# Die Madlanga-kommissie het die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, ondervra oor ‘n dagvaarding wat sy gemagtig het vir bevorderings binne die Taakspan vir Politieke Moorde. Kommissarisse het haar uitgedaag nadat sy voorheen getuig het sy het eers by die kommissie bewus geword die eenheid word ondersoek. Die getuienisleier, Mahlape Sello het IDAC se belangstelling in die taakspan bevraagteken, al het sy voorheen aan die Parlement se ad hoc-komitee gesê sy het geen kennis van die eenheid gehad nie:
# Die Suider-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens waarsku belastingbetalers om op hul hoede te wees vir swendelary tydens die belasting-indieningstydperk. Uitvoerende hoof, Manie van Schalkwyk, sê bedrieërs gebruik vals Inkomstediens-e-posse, SMS-boodskappe en telefoonoproepe om persoonlike en bankinligting te bekom of belastingterugbetalings te herlei. Belastingbetalers word versoek om alle kommunikasie deur amptelike kanale te bevestig en nie op onbekende skakels te klik nie. Hy sê verdagte bedrywighede moet onmiddellik by die Inkomstediens, banke en die polisie aangegee word.
# ‘n Airbus A350 het presies 24-uur en 24-minute geneem om ‘n toetsvlug vanaf Melbourne in Australië na Toulouse in Frankryk te voltooi as deel van Quantas se Project Sunrise. Dis ‘n nuwe rekord vir ‘n regstreekse vlug. Die redery het voorheen aangedui vlugte oor die Stille Oseaan is ‘n moontlikheid vir ‘n regstreekse roete tussen Sydney en Londen wat in Oktober volgende jaar ingestel sal word. Airbus het die vliegtuig ontwerp met ‘n geïntegreerde brandstoftenk van 20-duisend-liter wat nodig is om die afstand af te lê.
# Rugby: Argentinië se afrigter, Felipe Contepomi, het tien nuwelinge in sy groep ingesluit vir die toets teen Suid-Afrika en twee wedstryde teen Australië. Verskeie ervare spelers is nie beskikbaar nie weens verpligtinge by hul Europese klubs. Los Pumas is volgende Saterdag gasheer vir die Springbokke in Buenos Aires en speel die 29ste Augustus in San Salvador de Jujuy teen die Wallabies, en Mendoza op 5 September. Die toetse is gereël in die plek van die Rugbykampioenskap wat vanjaar nie plaasvind nie weens die All Blacks se toer in Suid-Afrika.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-75-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-488-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-29-dollar-53-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-61-sent per vat.
# En om mee af te sluit, die KwaZulu-Natalse LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, vra inwoners om waaksaam te bly nadat die Suid-Afrikaanse Weerdiens sy waarskuwing vir swaar reën na vlak ses verhoog het. Dit is tot môreaand van krag in eThekwini en verskeie ander kusmunisipaliteite. Woordvoerder Senzelwe Mzila sê daar is ‘n groot gevaar vir oorstromings, skade aan huise en infrastruktuur, ontwrigting van noodsaaklike dienste en gevaarlike reisomstandighede:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….