Nuus 16:00
BULLETIN 28 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die wapenuitvoersaak teen die regering gaan hof toe
# Die Tesourie gaan 7,1-miljard-rand aan munisipaliteite vrystel
# En sokker: Andrea Pirlo onttrek sy aansoek om Italië se afrigter te word weens bande met ‘n Russiese weddenskaps-onderneming
# Die Southern Africa Litigation Centre sê hy het ‘n sterk regsaak teen die Suid-Afrikaanse regering oor wapenuitvoerpermitte wat aan Amerika toegestaan is. Die organisasie wil hê die Hooggeregshof in Pretoria moet die permitte opskort of tersyde stel en voer aan wapens wat Suid-Afrika aan Amerika verskaf, kan binnelandse wetgewing oortree en internasionale vrede en veiligheid ondermyn. Die regering staan die aansoek teen. Die sentrum sê die saak sal nou voortgaan na ‘n volwaardige verhoor, waarin die hof sal moet beslis of die permitte voldoen aan Suid-Afrika se wapenbeheerwette.
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sê die Nasionale Tesourie gaan Vrydag begin om die res van die uitstaande billike-aandeeltoekennings aan munisipaliteite vry te stel. Die fondse van 69 munisipaliteite is teruggehou weens versuim om aan die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur te voldoen. Godongwana sê die maatreël is ingestel om finansiële aanspreeklikheid te verbeter. Hy bevestig altesaam 7,1-miljard-rand sal betaal word aan munisipaliteite wat voldoen aan die finansiële voldoeningsvereistes:
# Die Waternavorsings-kommissie sê Suid-Afrika se nasionale water-aksieplan kan die land se waterkrisis help oplos as dit behoorlik ingestel word. Navorser Stanley Liphadzi sê welslae hang af van belegging in munisipale infrastruktuur, sterker bestuur en verbeterde tegniese vermoë. Hy sê om waterinkomste slegs aan te wend vir instandhouding en opgradering kan dienslewering verbeter en beleggings lok. Liphadzi glo hervorming, toerekenbaarheid en geskoolde beroepslui is noodsaaklik om verouderende infrastruktuur te rehabiliteer en volhoubare waterdienste landwyd te verseker.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Infrastruktuur, Tertuis Simmers, sê die provinsiale regering verander die manier waarop infrastruktuur beplan, befonds en gelewer word deur sterker vennootskappe, meer deursigtigheid en ‘n gedeelde toekomsplan vir langtermyngroei. Die provinsiale regering hou Donderdag sy eerste ministeriële rondetafelgesprek oor infrastruktuur in Kaapstad. Simmers sê die middelpunt van die besprekings is die Wes-Kaapse Infrastruktuur-raamwerk 2050, wat die provinsie se langtermyn-bloudruk vir infrastruktuurgeleide ontwikkeling is:
# Sokker: Andrea Pirlo het onttrek as kandidaat om Italië se nuwe hoofafrigter te word weens sy bande met ‘n Russiese weddenskaps-onderneming. Hy is beskou as volslae gunsteling om oor te neem by Gennaro Gattuso, wat in April bedank het nadat die land weer nie vir die Wêreldbekertoernooi kon kwalifiseer nie. Pirlo is ‘n ambassadeur vir Fonbet, wat verskeie sportbyeenkomste geborg het vir veterane van Rusland se oorlog in Oekraïne. Verskeie politici sê enigiemand wat Rusland steun na sy inval in Oekraïne moet nie ‘n nasionale posisie beklee nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-386-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-30-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….