Nuus 15:00
BULLETIN 28 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Madlanga-kommissie ondervra Andrea Johnson oor Misdaadintelligensie-fondse
# Die Handelskommissie beveel hoër aksynstariewe aan op ingevoerde grondboontjiebotter
# En rugby: Die Bokke word beskuldig van onderduimse taktiek in toetse
# Die Madlanga-kommissie het die voormalige hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, ondervra oor bewerings rakende misbruik van Misdaadintelligensie-fondse. Sy het getuig sy was nie bewus van enige ondersoeke nie en sulke sake val onder die Valke. Johnson voeg by die direktoraat sou aandag gee aan enige ondersoek na bewerings wat die parlementslid Fadiel Adams geopper het:
# Die DA sê vertragings met die Gautengse Onderwysdepartement se aanlyn toelatingsproses vir grade 1 en 8 kan nog ‘n leerder-plasingskrisis veroorsaak. Aansoeke vir volgende jaar open op 4 Augustus en sluit op 5 September. Die DA se woordvoerder, Sergio Isa dos Santos, sê die DA gaan oorsigbesoeke bring aan distrikskantore om te verseker elke leerder word voor die nuwe skooljaar geplaas. Hy vra aansoeke moet vroeër ingedien kan word:
# Die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie beveel hoër aksynsbelasting aan op ingevoerde grondboontjiebotter, van 99-sent per kilogram tot 25-persent van die waarde. ‘n Ondersoek het bevind stygende invoere, meestal uit Indië, benadeel plaaslike vervaardigers. Die kommissie sê binnelandse produksie, verkope en fabrieks-vermoë het afgeneem weens stygende produksiekoste. Die kommissie het ook ‘n ondersoek gelas na ‘n tydelike korting op ingevoerde grondbone om die mededingendheid van Suid-Afrikaanse produsente te verbeter.
# Zimbabwiese gesondheids- en landbou-owerhede het weer gewaarsku teen die onwettige gebruik om antiretrovirale middels vir hoenders te voer om groei te bespoedig. Daily Maverick berig amptenare waarsku die misbruik van die middels hou ‘n ernstige openbare gesondheids-gevaar in en kan lei tot anti-mikrobiese weerstand. Kenners maan pluimveeboere om goedgekeure boerderymetodes te gebruik in plaas van om menslike medisyne in vee-produksie aan te wend. Boere word steeds opgevoed oor veilige pluimvee-bestuur en die gevare van middel-misbruik.
# Rugby: Die Springbokke is daarvan beskuldig dat hulle wedstryde vertraag en onderduimse taktiek gebruik om onderbrekings af te dwing sodat hulle kan asemskep. Die uitgesproke Nieu-Seelandse radio- en potgooi-aanbieder Mark Watson voorspel afrigter Rassie Erasmus gaan enigiets in sy mag doen om onderbrekings te skep en die tempo te vertraag in die komende toetsreeks teen die All Blacks. Watson het op Sports Nations NZ beweer geen span in die wêreld kan bybly by die All Blacks se fiksheid, vaardighede en hoë speltempo nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-398-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-30-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-97-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….