Nuus 14:00
BULLETIN 28 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Leningkoste en swakker verbruikersvertroue beïnvloed die vraag na behuising
# Johnson and Johnson bied 92,3-miljard-rand aan om meer as 70-duisend babapoeier-sake te skik
# En sokker: Die gewese sterspeler Zinedine Zidane word bevestig as Frankryk se nuwe hoofafrigter
# ‘n Senior FNB-ekonoom, Siphamandla Mkhwanazi, sê hoër leningkoste, swakker verbruikersvertroue en traer ekonomiese toestande beïnvloed die vraag na behuising en sal na verwagting die res van die jaar mark-bedrywighede kniehalter. Die FNB-huisprysaanwyser het verlede jaar verder verlangsaam. Die jaarlikse groei in huispryse het van 5,7-persent in Mei tot 5,2-persent gedaal. Mkhwanazi sê die behuisingsmark trek voordeel uit ʼn gebrek aan voorraad wat bydra om pryse te beskerm:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê dialise-dienste gaan ononderbroke voort in die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal, ondanks onlangse tekorte aan noodsaaklike dialise-benodigdhede. Woordvoerder Steve Mabona sê gebeurlikheidsmaatreëls het verseker dat alle behandelings voortgaan en geen behandelings is gekanselleer of uitgestel nie. Hy sê dialise-filters is tydelik vanaf nabygeleë geriewe verkry. Mabona voeg by verkryging is versnel en maatreëls word ingestel om voorsieningskettingbestuur te versterk:
# Die Oos-Kaapse Departement van Vervoer sê ses mense is vanoggend dood in ‘n trompop-botsing op die N2 naby Mooiplaas buite KuGompo City. Woordvoerder Unathi Binqose sê een van die voertuie het ná die botsing aan die brand geslaan en van die insittendes binne vasgekeer. Hy versoek motoriste om uiters versigtig te wees en waarsku nat, gladde paaie en swak sigbaarheid verhoog die gevaar van ernstige botsings. Nood- en reaksiespanne is op die toneel.
Nuus uit die buiteland:
# Johnson and Johnson het sowat 92,3-miljard-rand aangebied om dagvaardings te skik in verband met sy babapoeier en ander produkte wat talk-poeier bevat. Dit veroorsaak na bewering ovariumkanker. Die skikking dek ongeveer 76-duisend eise. Die maatskappy sal volgende jaar tot 50,25-miljard-rand betaal en meer in 2028. Die visepresident vir litigasie, Erik Haas, sê hulle glo hulle sou uiteindelik verdere hofsake wen, maar hierdie oplossing stel die maatskappy in staat om die saak agter te laat en te fokus op die ontwikkeling van medisyne en toestelle wat lewens red.
# Sokker: Die gewese sterspeler Zinedine Ziane is bevestig as Frankryk se volgende hoofafrigter. Hy volg Didier Deschamps op, wie se termyn van 14-jaar na die Wêreldbekertoernooi verstryk het. Die 54-jarige Zidane het sy land tussen 1994 en 2006 in 108 wedstryde verteenwoordig en 31 doele aangeteken. Hy was deel van die Wêreldbeker-wenspan van 1998. Zidane het die Spaanse reus Real Madrid tussen 2014 en 2021 twee keer afgerig. Hy gaan glo ‘n vierjaar-kontrak onderteken om Frankryk na 2030 se Wêreldbekertoernooi in Spanje, Portugal en Marokko te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-80-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-235-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-18-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 89-dollar-12-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….