Nuus 12:00
BULLETIN 28 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika en Nigerië kom ooreen om migrasie- en streeksveiligheid-samewerking te versterk
# Jacob Zuma ontbind die MK-party se presidensiële taakspan
# En die sperdatum nader vir die vervanging van SASSA-gouekaarte
# Suid-Afrika en Nigerië het ooreengekom om samewerking ten opsigte van migrasie, misdaad en streeksveiligheid te versterk. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het met die Nigeriese president, Bola Tinubu, vergader tydens ‘n diplomatieke sending na Abuja namens president Cyril Ramaphosa. Sy woordvoerder, Chrispin Phiri, sê kommer is uitgespreek oor die betrokkenheid van sekere buitelanders, insluitend Nigeriese burgers, by georganiseerde misdaad, onwettige dwelmhandel en finansiële bedrog:
# Die MK-party se leier, Jacob Zuma, het die party se presidensiële taakspan ontbind en vervang met ‘n nuwe strategiese presidensiële span wat die organisasie se hoogste besluitnemende gesag sal wees. Dit volg nadat hy verlede week die party se finansies onder sy persoonlike beheer geplaas het te midde van bewerings oor die wanbesteding van fondse. Zuma sê die ontbinding van die taakspan is daarop gemik om die leierskapstruktuur te versterk, groter eenheid in besluitneming te verseker en toe te sien dat partybesluite doeltreffend uitgevoer word.
# SASSA-begunstigdes wat steeds die ou gouekaarte gebruik, het tot einde Augustus om oor te skakel na die nuwe Posbank-swartkaarte. Diegene wat nie voor die sperdatum oorskakel nie, sal moontlik vanaf September nie toegang tot hul maatskaplike toelaagbetalings hê nie. SASSA vra begunstigdes om so gou moontlik vervangingspunte te besoek om onderbrekings in uitbetalings te voorkom. Die agentskap sê die nuwe Posbank-swartkaarte word bekendgestel om veiligheid en betroubaarheid te verbeter.
Nuus uit die buiteland:
# Meer as 170 burgerlikes is volgens berigte sedert 9 Julie in Oekraïne dood en een-duisend-28 beseer te midde van verskerpte Russiese aanvalle. Minstens 16-duisend-431 burgerlikes is in Oekraïne dood sedert Moskou die oorlog in Februarie 2022 begin het. Dit sluit 803 kinders in. Indrika Ratwatte van die Verenigde Nasies sê die voortgesette vyandelikhede in Oekraïne veroorsaak toenemende gevare vir burgerlikes, beskadig noodsaaklike infrastruktuur en bedreig selfs wêreldwye voedsel- en energiesekerheid:
# Tennis: Die vroue-wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, en die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, gaan saamspan in die Amerikaanse Ope se gemengde dubbelspel wat op 25 Augustus in New York begin. Verlede jaar se naaswenners, Iga Swiatek en Casper Ruud, het ook ingeskryf, saam met Elena Rybakina en Taylor Fritz, en die Japannese Naomi Osaka en Kei Nishikori. Die ses spanne met die beste gekombineerde enkelspelranglys-posisies sal outomaties vir die hooftrekking ingeskryf word. Agt spanne sal as promotorskeuses deelneem, terwyl die laaste twee plekke deur kwalifisering bepaal sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-406-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-49-dollar-80-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-30-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….