Nuus 11:00
BULLETIN 28 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana sê die voorgestelde salarispakket van NSFAS se administrateur moet heroorweeg word
# Meer as 170 Oekraïnse burgerlikes sterf in Russiese aanvalle sedert 9 Julie
# En tennis: Djokovic en Sabalenka gaan saamspan in die Amerikaanse Ope se gemengde dubbelspel
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het voorgestel die salarispakket van die administrateur van die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente, Hlengani Mathebula, word heroorweeg. Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Buti Manamela, het hom in Mei aangestel nadat die skema onder administrasie geplaas is. Sy vergoeding beloop elf-miljoen-rand oor 24 maande terwyl sy vier tegniese raadgewers saam 9,9-milljoen-rand sal kry. Godongwana het aan News24 gesê die salarispakket moet in ooreenstemming wees met die vergoeding van vorige administrateurs en ander administrateurs-aanstellings by universiteite.
# Die vakverbond Saftu veroordeel Amerika se jongste besluit om nuwe handelstariewe teen Suid-Afrika en tientalle ander lande in te stel omdat hulle na bewering nie dwangarbeid keer of doeltreffend bekamp nie. Die Amerikaanse handelsverteenwoordiger het tariewe van 12,5-persent teen Suid-Afrika ingestel. Volgens Saftu se woordvoerder, Asive Dyani, het die land herhaaldelik bewys hy het ‘n omvattende grondwetlike, wetgewende raamwerk om dwangarbeid te voorkom:
# Die DA sê die Charlotte Maxeke Johannesburgse Akademiese Hospitaal het geen noodsaaklike dialise-medisyne nie omdat die Gautengse Gesondheidsdepartement versuim het om verskaffers te betaal. Die party beweer die hospitaal is gedwing om ‘n noodnatriumbikarbonaat-oplossing by die Helen Joseph-hospitaal te leen, terwyl noodsaaklike dialise-filters na bewering vir ses weke nie voorsien is nie. Madeleine Hicklin van die DA het die departement versoek om sy skuld te vereffen en lewensbelangrike medisyne-voorrade te herstel:
Nuus uit die buiteland:
# Meer as 170 burgerlikes is volgens berigte sedert 9 Julie in Oekraïne dood en een-duisend-28 beseer te midde van verskerpte Russiese aanvalle. Minstens 16-duisend-431 burgerlikes is in Oekraïne dood sedert Moskou die oorlog in Februarie 2022 begin het. Dit sluit 803 kinders in. Indrika Ratwatte van die Verenigde Nasies sê die voortgesette vyandelikhede in Oekraïne veroorsaak toenemende gevare vir burgerlikes, beskadig noodsaaklike infrastruktuur en bedreig selfs wêreldwye voedsel- en energiesekerheid:
# Tennis: Die vroue-wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka, en die 24-malige Grand Slam-kampioen, Novak Djokovic, gaan saamspan in die Amerikaanse Ope se gemengde dubbelspel wat op 25 Augustus in New York begin. Verlede jaar se naaswenners, Iga Swiatek en Casper Ruud, het ook ingeskryf, saam met Elena Rybakina en Taylor Fritz, en die Japannese Naomi Osaka en Kei Nishikori. Die ses spanne met die beste gekombineerde enkelspelranglys-posisies sal outomaties vir die hooftrekking ingeskryf word. Agt spanne sal as promotorskeuses deelneem, terwyl die laaste twee plekke deur kwalifisering bepaal sal word.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-76-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-561-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-48-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….