Nuus 09:00
BULLETIN 28 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dokters Sonder Grense is bekommerd oor die mediese toestand van migrante op Suid-Afrikaanse grense
# Die MK-party glo Andrea Johnson word teen aanspreeklikheid beskerm
# En meer as 100 word in Frankryk aangehou of ondervra oor brandstigting
# Dokters Sonder Grense sê die geweld teen migrante het ‘n mediese humanitêre krisis veroorsaak by die Suid-Afrikaanse grenspos-dorpe, Musina en Beitbrug. Meer as 68-duisend buitelandse burgers in Suid-Afrika is sedert Junie vir repatriasie of deportasie verwerk. Die organisasie se woordvoerder, Caroline Masunda, sê hulle is bekommerd dat toegang tot gesondheidsorg vir mense wat aan chroniese toestande soos MIV, TB, diabetes, hoë bloeddruk en geestesgesondheid-probleme lei, ontwrig kan word:
# Die MK-party het president Cyril Ramaphosa se “vinnige aanvaarding” van advokaat Andrea Johnson se bedanking as hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie gekritiseer. Die president het haar bedanking aanvaar na aanbevelings deur die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, en die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andy Mothibi. Mzwanele Manyi van die MK-party het aan Newzroom Afrika gesê Johnson se bedanking behoort nie te keer dat bewerings oor haar geskiktheid vir die amp formeel ondersoek word nie:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, vra die families van gestorwe operateurs van openbare vervoer, insluitend minibus- en metertaxi-operateurs, om aansoek te doen dat geldige bedryfslisensies oorgedra word. Dis om die nakoming van toepaslike wette en regulasies te verseker. Die departement se woordvoerder, Lesiba Mpya, sê die oordrag van ʼn bedryfslisensie is ʼn statutêre vereiste wat die integriteit van die regulatoriese stelsel vir openbare vervoer bewaar en die regte van operateurs, pendelaars en begunstigdes beskerm:
# Meer as 160 mense is sedert die sesde Julie in Frankryk aangehou of ondervra oor doelbewuste brandstigting. Sowat 220-duisend mense in Frankryk en meer as 100-duisend in Spanje is ontruim terwyl brandbestryders sukkel om die veldbrande te midde van ‘n hittegolf te beheer. Frankryk se eerste minister, Sébastien Lecornu, sê die brande is hoofsaaklik deur nalatigheid veroorsaak: ‘n sigaretstompie, ‘n braai of werk wat sonder voorsorgmaatreëls uitgevoer is. Hy sê doelbewuste brandstigting is ‘n misdaad wat strafbaar is met 15 jaar gevangenisstraf. Niemand is nog aangekla nie.
# Sokker: Orlando Pirates het die Premier Sokkerliga se Spelertoekennings oorheers, na ‘n geskiedkundige plaaslike driekuns in die 2025/2026-seisoen met oorwinnings in die Premierliga-titel, die MTN8-beker en die Carling Uitklopbeker. Relebohile Mofokeng van Pirates het ‘n opwindende seisoen afgesluit, met die toekennings as sokkerspeler van die seisoen-, die spelers se speler-, asook jong speler van die seisoen. Die Buccaneers het al die groot individuele kategorieë gewen, met Abdeslam Ouaddou as afrigter en Lebone Seema as verdediger van die seisoen. Mamelodi Sundowns se middelveldspeler Jayden Adams, wat vroeër vandeesmaand dood is, het postuum die Voorsitterstoekenning ontvang.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-248-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-47-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….