Nuus 08:00
BULLETIN 28 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party glo Andrea Johnson word beskerm teen aanspreeklikheid
# Donald Trump sê die VSA het aanvalle op Iran gestaak na ‘n versoek vir hernude vredesgesprekke
# En Span SA wen nog twee medaljes by die Statebondspele
# Die MK-party het president Cyril Ramaphosa se “vinnige aanvaarding” van advokaat Andrea Johnson se bedanking as hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie gekritiseer. Die president het haar bedanking aanvaar na aanbevelings deur die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, en die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Andy Mothibi. Mzwanele Manyi van die MK-party het aan Newzroom Afrika gesê Johnson se bedanking behoort nie te keer dat bewerings oor haar geskiktheid vir die amp formeel ondersoek word nie:
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging het die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, gevra om die tariefmeganisme vir suiker-invoere te finaliseer om werklikhede in die huidige plaaslike suikermark te weerspieël. Nuwe data toon 94-duisend-984 ton suiker is tussen Januarie en Mei ingevoer teenoor 55-duisend-213 ton in dieselfde tydperk verlede jaar. Die Internasionale Handelsadministrasie-kommissie bepaal tans of die bestaande suikertariewe die mededingend is. Die vereniging sê elke ton plaaslike suiker wat deur ‘n ingevoerde ton vervang word, het ʼn regstreekse uitwerking op ʼn kweker se inkomste.
# AfriForum sê Gauteng kan volgende jaar weer ‘n skoolplasingskrisis vir graad een- en graad agt-leerders beleef, omdat die aanlyn toelatingstelsel te laat oopmaak. Die organisasie sê meer as 400-duisend leerders sal binne ‘n kort tydperk geplaas moet word. Carien Bloem van AfriForum sê die laat opening van die aanlynstelsel en toenemende druk op skoolkapasiteit kan tot vertragings met die plasing van leerders lei:
# President Donald Trump van Amerika sê hy het besluit om voorlopig aanvalle op Iran te staak omdat die lande wat as bemiddelaars optree, weer vir vredesonderhandelings gevra het. Die onderbreking volg na twee weke se volskaalse Amerikaanse aanvalle en wraakaanvalle deur Teheran. Iran ontken dat regstreekse onderhandelings plaasvind. Trump waarsku dat hulle aanvalle sal hervat indien ʼn nuwe skietstilstand nie bereik word nie. Hy het wel gesê hy is optimisties dat die oorlog kan eindig:
# Statebondspele: Suid-Afrika het gister nog twee medaljes in die swembad gebuit en sy medalje-oes staan nou op elf. In die mans se 50-meter-borsslag het Michael Houlie in 26,77-sekondes silwer gewen, die Australiër Sam Williamson spog met goud en Adam Peaty-Ramsay van Engeland met brons. Erin Gallagher, wat aan haar laaste Spele deelneem, het in 57,39-sekondes brons gewen in die vroue se 100 meter-vlinderslag. In die rystoel-basketbal-item het Suid-Afrika se mans die span van Maleisië met 13-10 verslaan. Hulle sal vir die halfeindronde kwalifiseer indien Skotland in die laaste groepwedstryd met Wallis afreken.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-256-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-49-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-73-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….