Nuus 12:00
BULLETIN 27 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu sê Anfrea Johnson se termyn was onvolhoubaar
# Die nuut-aangestelde Britse eerste minister Andy Burnham ontvang Zelensky vandag
# En die Tafelbergse sweefspoor is gesluit vir jaarlikse instandhouding
# Die vakbondfederasie Cosatu het Andrea Johnson se bedanking as hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie verwelkom. President Cyril Ramaphosa het haar versoek aanvaar om met onmiddelike ingang te bedank. Matthew Parks van Cosatu sê Johnson se termyn het onvolhoubaar geword nadat sy voor die Madlanga-kommissie beskuldig is dat sy misluk het om die nodige leierskap in die direktoraat te bied:
Ramaphosa het intussen die leierskap en personeel van die Nasionale Vervolgingsgesag verseker van die regering se ondersteuning vir sy werk in die stryd teen misdaad en korrupsie na Johnson se bedanking. Ramaphosa het haar in Februarie 2022 in die posisie aangestel met die mandaat om die stryd teen korrupsie en staatskaping te versterk.
Nuus uit die buiteland:
# Die Britse eerste minister, Andy Burnham, sal vandag die Oekraïnse president, Volodimir Zelensky, op ‘n Britse Vlootbasis ontvang. Zelensky sal die nuwe Arbeidersleier se eerste internasionale gas wees nadat hy verlede Maandag aangestel is. Die twee leiers sal met 200 Oekraïnse soldate en matrose vergader wat Oefening Sea Breeze uitgevoer het. Die Vlootsekerheids- en teenmynoperasie van die afgelope drie weke was ter voorbereiding vir toekomstige sendings in die Swart See. Burnham het beloof om die Verenigde Koninkryk se steun aan Oekraïne voort te sit.
# Sokker: Banyana Banyana se hoofafrigter, Desiree Ellis, het die belangrikheid beklemtoon van ‘n oorwinning oor Tanzanië in vanaand se Afrikabeker-groepswedstryd in Casablanca, Marokko. Die twee lande het gelykop gespeel in hul laaste ontmoeting. Ivoorkus en Burkina Faso is ook in Groep B. Die vier spanne in die halfeindronde sal kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Ellis sê hulle het goed voorberei vir die toernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-31-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-176-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-91-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Die Tafelbergse sweefspoor in Kaapstad is van vandag tot 9 Augustus gesluit vir jaarlikse instandhouding. Stappers en klimmers sal steeds die vele staproetes kan geniet, maar geen sweefspoorritte sal beskikbaar wees nie. Woordvoerder Wahida Parker sê gedurende hierdie tyd sal noodsaaklike inspeksies, toetsing en instandhoudingswerk uitgevoer word om te verseker die sweefspoor bly ‘n veilige wêreldklas-ervaring:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….