Nuus 11:00
BULLETIN 27 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verseker die NVG van die regering se ondersteuning ná Andrea Johnson se bedanking
# Die DA vra privaat operateurs om belangrike vragspoorlyne oor te neem
# En sokker: Banyana se afrigter sê ‘n oorwinning in die Wafcon-openingswedstryd sal die toon aangee vir die res van die toernooi
# President Cyril Ramaphosa het die leierskap en personeel van die Nasionale Vervolgingsgesag verseker van die regering se ondersteuning vir sy werk in die stryd teen misdaad en korrupsie. Hy het die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, se onmiddellike bedanking aanvaar . Sy was verlede week onder die loep toe sy voor die Madlanga-kommissie getuig het. Ramaphosa het Johnson in Februarie 2022 in die posisie aangestel met die mandaat om die stryd teen korrupsie en staatskaping te versterk.
# Die DA vra Suid-Afrika moet wegbeweeg van Transnet se bestuur van die vragspoornetwerk en eerder privaat maatskappye toelaat om die bedryf van belangrike spoorlyne oor te neem. Dit volg na die vrystelling van die jongste netwerkverklaring deur die bestuurder van Transnet se Spoorweginfrastruktuur. Chris Hunsinger van die DA sê die plan laat sommige privaat maatskappye toe om hul treine op die netwerk te bedryf, maar Transnet sal steeds die spore, infrastruktuur en netwerkbestuur beheer:
# Die Spesiale Ondersoekeenheid het ‘n bewaringsbevel van die Spesiale Tribunaal ontvang om twee eiendomme van miljoene rand te bevries wat verbind word met die gewese hoof van die Suid-Afrikaanse Passasierspooragentskap, Lucky Montana. Die eenheid se woordvoerder, Selby Makgotho, het aan Newzroom Afrika gesê die ondersoek het ʼn geld-spoor ontdek wat die eiendomme verbind met PRASA se omstrede tender van 5,6-miljard-rand vir ʼn geïntegreerde sekerheistoegang-bestuurstelsel:
Nuus uit die buiteland:
# Twee mense is dood en vyf beseer in ʼn skietery op die gewilde Bite of Seattle-kosfees in Amerika. Volgens die BBC sê ooggetuies hulle het harde knalle geweervuur gehoor voordat hulle gevlug en skuiling gesoek het. Sommige beskryf die toneel as suiwer chaos. Burgemeester Katie Wilson noem die skietery ʼn daad van gruwelike geweld. Een verdagte is in hegtenis geneem. Die skietery is een van minstens 271 massa-skietvoorvalle vanjaar in Amerika.
# Sokker: Banyana Banyana se hoofafrigter, Desiree Ellis, het die belangrikheid beklemtoon van ‘n oorwinning oor Tanzanië in vanaand se Afrikabeker-groepswedstryd in Casablanca, Marokko. Die twee lande het gelykop gespeel in hul laaste ontmoeting. Ivoorkus en Burkina Faso is ook in Groep B. Die vier spanne in die halfeindronde sal kwalifiseer vir volgende jaar se Wêreldbekertoernooi in Brasilië. Ellis sê hulle het goed voorberei vir die toernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-2-sent teen die euro en 22-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-343-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-97-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-78-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….