Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 27 Julie 2026:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, advokaat Andrea Johnson, het gevra dat sy onmiddellik uit haar pos kan bedank. Dit volg na verskeie aantygings en indringende vrae by die Madlanga-kommissie.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig ook oor Johnson se versoek om van haar amp onthef te word. Sy het haar bedankingsbrief ook aan president Cyril Ramaphosa gestuur.
En tweedens skryf die webblad die Grensbestuursowerheid het sedert Junie reeds meer as 72-duisend mense by al die grensposte landswyd gerepatrieer. Daar is ook 354 onwettige landsburgers in hegtenis geneem.
GAUTENG:
# The Star:
Skryf ook oor Andrea Johnson se bedanking. Volgens die koerant sê sy dat sy die afgelope vyf maande blootgestel is aan ongekende persoonlike en professionele aanvalle. Sy sê die meeste van die aanvalle spruit voort uit ondersoeke teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Misdaadintelligensie-afdeling.
# Sowetan:
Berig oor die reuseprobleem van dobbelverslawing in Suid-Afrika. Die koerant het met ‘n verslaafde gepraat wat sê hy het as 13-jarige begin dobbel.
# En The Citizen:
Skryf met 28 mense wat daagliks in Suid-Afrika vermoor word is onwettige wapens die grootste euwel. In die afgelope boekjaar is meer as nege-duisend mense met ongelisensiëerde wapens doodgeskiet en slegs 75 met wettige wapens.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Berig eerstens oor nog ‘n plaasaanval in die Boland. Dit is die vyfde soortgelyke voorval die afgelope tyd en die keer is ‘n egpaar op die plaas Neethlingshof ernstig aangerand en vuurwapens is gesteel. Na wat berig word was drie aanvallers betrokke.
En tweedens skryf die koerant oor ‘n sogenaamde advertensie wat op sosiale media verskyn het. Die adverteerder is na bewering ‘n ryk 58-jarige Vrystater wat op soek is na ‘n jong bruid met Bybelse waardes.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die AARTO-stelsel het nie op ‘n goeie voet afgeskop in Nelson Mandelabaai nie. Die verkeersbeamptes het nog nie die regte oortredingsboeke nie en hulle is nie ingeskakel op die AARTO-stelsel nie.
En tweedens skryf die koerant die kerke in Nelson Mandelabaai is ontsteld oor die regering se voorgenome regulering van kerke.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf die polisiekommissaris van KwaZulu-Natal, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, se verantwoordelikhede is tot buite die provinsie se grense uitgebrei. Hy sal ingevolge die polisie se Herstel-agenda beheer uitoefen oor die Nasionale Georganiseerde Misdaadstrategie.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig die ministerie van Werke en Vervoer sê daar is nog geen bestuursaanstellings by die nuwe nasionale lugredery Namib Air gedoen nie.
En tweedens skryf die koerant altesaam 91-persent van Namibië se kinderoortreders wat die afgelope dekade in die kinderregstelsel beland het, is seuns.