Nuus 07:00 (DGO)
BULLETIN 27 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hoof van IDAC, Andrea Johnson, het gevra om met onmiddellike ingang te bedank
# ‘n Ondersoek onthul AfriForum se bestedingsvoorkeure
# En motorsport: Lando Norris wen sy eerste wedren van die seisoen by die Hongaarse Grand Prix
# Die hoof van die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, het aan president Cyril Ramaphosa en die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, geskryf en toestemming gevra om met onmiddellike ingang te bedank en dat haar kennistydperk van drie maande kwytgeskeld word. Dit volg nadat haar hantering van hoëprofiel-korrupsiesake waarby senior misdaadintelligensie-beamptes betrokke was, by die Madlanga-kommissie onder skoot gekom het. In ‘n brief wat uitgelek is, beskryf Johnson die aanvalle teen haar as ongekend. Sy sê haar bedanking sal die instellings en die land die beste dien. Mothibi het ontvangs van die versoek erken.
# Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, sê Suid-Afrika ondersteun beraadslaging oor migrasie op die Afrika-unie se hoogste vlak. Hy sê dit moet egter fokus op ordelike, korrekte en wetlike migrasie, volgens die vasteland se bestaande raamwerke. Twee Ghanese het ʼn versoek by die Internasionale Strafhof ingedien om herhaalde xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika te ondersoek, maar die regering verwerp dit as “opportunisties”. Lamola sê Afrikalande erken die soewereine reg van elke staat om sy immigrasiewette toe te pas. Hy sê die enigste aspek waar daar raakpunte is, handel met die hantering van onwettige immigrante, naamlik dat dit op ‘n menslike wyse en volgens wettige kanale moet geskied.
# Volgens ‘n News24-ondersoek het AfriForum tussen 2019 en 2024 1,6-miljard-rand van lede en skenkers ingesamel, met 1,5-miljard-rand wat na bewering op salarisse, bemarking en administrasie bestee is. Die verslag sê slegs 304-miljoen-rand is aan regstreekse projekte toegeken, insluitend 13,4-miljoen vir buurtwag-inisiatiewe. Daar is ook bevind dat meer as 80-miljoen-rand aan konferensies en reise bestee is, terwyl bemarkingskoste gemiddeld sowat vier-miljoen-rand per maand gedurende spitswerwingsperiodes beloop het. AfriForum sê hulle word onafhanklik geouditeer en hou vol dat hul besteding hul missie en aktiwiteite ondersteun.
# eThekwini-burgemeester, Cyril Xaba, sê die munisipaliteit handhaaf ʼn sterk finansiële posisie en kenners het toenemend vertroue dat sy finansies bestendig sal bly. Die raad het in Mei amptelik die metro se 2026-2027 Medium Termyn Inkomste- en Uitgawe-raamwerk aanvaar met ʼn totale begroting van 75,3-miljard-rand. Dis gemik op die bespoediging van dienslewering, infrastruktuur-hernuwing en die instelling van omkeerstrategieë vir eThekwini se handelsdienste. Xaba sê hulle het nie skuld wat water- en elektrisiteitsdienste betref nie, en waarborg inwoners dus ononderbroke voorsiening van hierdie noodsaaklike dienste.
# Amerika se ambassadeur by die Verenigde Nasies, Mike Waltz, sê president Donald Trump het aanvalle op Iran voorlopig gestaak om meer ruimte vir diplomasie te laat. Amerika se weermag het Vrydagaand sy nagtelike bombardemente op Teheran na byna twee weke onderbreek. Geen aanvalle is die naweek op Iran of sy buurlande uitgevoer nie. Waltz sê in ʼn onderhoud op NBC dat Trump alle opsies oop hou omdat sy voorkeur nog altyd diplomasie was.
# Motorsport: McLaren-renjaer Lando Norris het sy eerste oorwinning van die seisoen by die Hongaarse Grand Prix behaal. Die Brit, wat in die eerste plek weggespring het, se spanmaat Oscar Piastri het hom in die eerste rondte verbygesteek, maar hy het na die tweede rondte kuip-stoppe weer voor gejaag. Max Verstappen van Red Bull en Mercedes-renjaer Kimi Antonelli is onderskeidelik tweede en derde. Piastri moes met 14 rondtes oor weens ʼn ratkasprobleem onttrek. Antonelli se kampioenskapsvoorsprong is nou 50 punte meer as Lewis Hamilton van Ferrari en 59 meer as sy spanmaat, George Russell.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-33-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-90-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-102-dollar-59-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 93-dollar-39-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….