Nuus 06:00
BULLETIN 27 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Grensbestuursowerheid het sedert Junie meer as 72-duisend repatriasies verwerk
# Die Berlin Pride-aanval word beskryf as ‘n Islamitiese terreuraanval
# En rugby: Boland oorheers die Stormers-23 in die Curriebeker-kompetisie
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, sê die regering het beduidende vordering gemaak met die verwerking van ongedokumenteerde buitelandse burgers sedert die migrasieprobleme in Junie toegeneem het. Die Grensbestuursowerheid het tussen 7 Junie en 14 Julie 72-duisend-906 repatriasies by alle grensposte verwerk. Die meerderheid van die burgers wat by die Musina Tydelike Repatriasieverwerkingsentrum hanteer is, was Malawiese burgers, gevolg deur Zimbabwiese en Mosambiekse burgers. Kubayi sê die instelling van die Vyfpuntplan oor Migrasiebestuur lewer steeds resultate:
# Die African Transformation Movement gaan die Konstitusionele Hof dringend nader vir duidelikheid oor die instelling van die Artikel 89-ampsklagproses. Die stap volg op ‘n tussentydse interdik van die Wes-Kaapse Hooggeregshof wat die Parlement se ampsklagverhoor teen president Cyril Ramaphosa staak. ATM se woordvoerder Zama Ntshona sê die uitspraak het grondwetlike onsekerheid geskep en voer aan dat slegs die Konstitusionele Hof kan bepaal of ‘n laer hof een van sy bevele mag opskort:
# Die Madlanga-kommissie hervat vandag met die hoof van die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, wat na verwagting haar getuienis sal voortsit. Sy word steeds ondervra oor die wettigheid van ondersoeke, teenstrydighede in haar getuienis en besluite in hoëprofiel-korrupsiesake. Johnson het verskeie uitlatings teruggetrek en die hoof van die polisisie se Misdaadintelligensie Tegniese-ondersteuningsdienste, Dineo Mokwele, om verskoning gevra oor opmerkings oor haar aanstelling. Mokwele, wat op borgtog vrygelaat is op aanklagte van bedrog en korrupsie, het sedertdien ‘n formele klag teen Johnson by die direktoraat-ombud, afgetrede regter Takalani Raulinga, ingedien.
# President Cyril Ramaphosa sal vandag die Eerste Gewone Sitting van die Sewende Pan-Afrikaanse Parlement by sy hoofkwartier in Midrand, Gauteng, open. Die week lange sitting word gehou onder die Afrika-Unie se 2026-tema om volhoubare waterbeskikbaarheid en veilige sanitasie te verseker. Die byeenkoms volg op die verkiesing van die nuwe Pan-Afrikaanse Parlementsburo in April. Dit sal fokus op die versterking van demokratiese regering, integrasie op die vasteland en die bevordering van die Afrika-Unie se Agenda 2063. Ramaphosa sal na verwagting op die huidige immigrasie-uitdagings fokus.
# Die Duitse minister van Binnelandse Sake, Alexander Donbrindt, het die voorval waarin ‘n aanvaller met ‘n voertuig in ‘n skare by Berlyn se grootste LGBTQ+-geleentheid ingejaag het, as ‘n Islamitiese terreuraanval beskryf. ‘n Vrou is dood en ten minste 29 is beseer in die Tiergarten-park. Donbrindt sê die verdagte, geïdentifiseer as die 21-jarige Abdul Ballout, het daarna mense met ‘n wapen, waarskynlik ‘n kapmes, aangeval. Volgens berigte is Ballout, ‘n Duitse burger van Libanese afkoms, aan die polisie bekend as ‘n lid van Islamitiese kringe in Berlyn en het hy voorheen verskeie misdade gepleeg.
# Rugby: Die Boland Kavaliers het sonder enige teenstand 28 punte in die tweede helfte aangeteken om ‘n bonuspuntoorwinning van 41-3 oor die Stormers-23 in die Curriebeker in Wellington te behaal. Die vleuel Jayden Bantom was die ster van die wedstryd, aangesien hy drie drieë gedruk en met vyf skoppe geslaag het om 26 punte agter sy naam te skryf. Dit het Boland gehelp om hul tweede oorwinning in die kompetisie te behaal. Boland is tweede op die Curriebeker-punteleer, terwyl die Stormers hul eerste nederlaag gely het nadat hulle die Griekwas geklop het om die sesde plek in te neem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-5-sent teen die euro en 22-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-442-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-92-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 92-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….