Nuus 09:00
BULLETIN 4 Februarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die aanlynkiesersportaal teken meer as 20-duisend kieserregistrasies aan
# Namibië se president Hage Geingob sterf op 82
# En, krieket: Die Joburg Super Kings deur na die uitklopfase van die SA20
# Die Verkiesingskommissie se adjunk-uitvoerende hoof, Masego Sheburi, sê die aanlynkiesersportaal het net gister meer as 20-duisend-325 nuwe registrasies aangeteken. Sewe-duisend-234 was kiesers wat vir die eerste keer op die kieserslys geregistreer is. Die kommissie doen ‘n beroep op kiesers wat probleme met die gebruik van die aanlynplatform gehad het, om weer te probeer. Dit is 24 uur per dag oop tot die verkiesingdatum aangekondig word. Sheburi sê die nasionale kieserslys het vir die eerste keer die 27-miljoen kerf verbygesteek:
Intussen is die DA erg bekommerd oor twee voorvalle wat gister tydens kieserregistrasie plaasgevind het en ‘n oortreding van die Verkiesingskode is. In Polokwane, Limpopo, het lede van die EFF glo by ‘n stemlokaal opruiende slagspreuke gedreunsing. Werner Horn van die DA sê in die tweede voorval in Eersterivier, Kaapstad, het die Patriotic Alliance by ‘n stemlokaal opgedaag met wat gelyk het na outomatiese wapens:
# Namibië se president, Hage Geingob, is oorlede terwyl hy mediese behandeling in ‘n hospitaal in Windhoek ondergaan het. Die adjunk-president, Nangolo Mbumba, het Geingob se heengaan vroeg vanoggend aangekondig. Sy vrou en kinders was by hom. Die 82-jarige leier is met kanker gediagnoseer en sy diagnose is verlede maand aan die publiek onthul. Geingob het in 2015 president geword en het sy tweede en laaste termyn in die amp uitgedien.
# Krieket: Die Joburg Super Kings het die voorlopers van die SA20-reeks, die Durban Super Giants, op die Wanderers geklop om by die uitspeelronde in te glip. Hulle het ‘n teiken van 204 gejaag na hulle die Super Giants gevra het om eerste te kolf. Kaptein Faf du Plessis en Leus du Plooy het alles in die stryd gewerp en 102 om die eerste paaltjie in slegs nege boulbeurte gemoker om die Super Kings tot ‘n oorwinning van sewe paaltjies te lei. M-I Cape Town het vroeër in Kaapstad die onderspit teen die Pretoria Capitals met vier paaltjies gedelf.
# En, Britse akademici beweer kinderrugby kan ‘n vorm van mishandeling wees weens die risiko van ernstige beserings. Volgens The Telegraph het navorsers van die universiteite van Winchester, Nottingham Trent en Bournemouth aangevoer die risiko van ernstige beserings druis in teen kindermishandelingwette. Hulle voer aan kinders en hul ouers kan nie wettiglik ingeligte toestemming gee om aan hoërisiko-sport deel te neem nie. Hulle beweer ook sportliggame het gesinne oorreed om te aanvaar breinbeserings is ‘n newe-effek van mededinging.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….