Nuus 13:00
BULLETIN 26 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie arresteer die vermeende meesterbrein agter ‘n DA-kandidaat se moord
# Rise Mzansi en die GOOD-party benoem Sarah Mabotsa as hul Tshwane-burgemeesterskandidaat
# En sokker: Banyana Banyana skop hulle eerste wedstryd môreaand af in hulle veldtog om die WAFCON-titel te behou
# Die polisie het ‘n 37-jarige man gearresteer wat vermoedelik die meesterbrein is agter die moord op die DA-raadslidskandidaat Sinovuyo Dyokwe. Sy is verlede maand doodgeskiet na die kieserregistrasie in Dunoon, Kaapstad. Ondersoekers glo Dyokwe is geteiken nadat sy geweier het om verder afpersingsgeld te betaal. Polisiewoordvoerder Andrè Traut sê die verdagte is gister in Parklands in hegtenis geneem tydens ‘n gesamentlike intelligensie-operasie nadat hy voortvlugtig was. Die verdagte sal na verwagting môre in die Kaapstad-landdroshof verskyn op aanklagte van moord en afpersing:
# Rise Mzansi en die GOOD-party het Sarah Mabotsa benoem as hul Tshwane-burgemeesterskandidaat vir die 2026-plaaslikeregeringsverkiesing. Mabotsa, die stad se burgemeesterskomiteelid vir Ekonomiese Ontwikkeling en Ruimtelike Beplanning, se benoeming is in Montana, Pretoria, aangekondig. Die partye het haar beskryf as ‘n etiese leier wat daartoe verbind is om openbare fondse te beskerm en inwoners te dien. Sy bly daartoe verbind om die stadsfinansies reg te ruk en ekonomiese groei te bevorder:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid sê sy Behandelingstyd-waarborgprogram verbeter toegang tot chirurgiese sorg in openbare hospitale. Die departement sê een-duisend-en-74 operasies en mediese prosedures is voltooi as deel van die Vierde Mandela-maand Chirurgiese Marathon, met 81-persent van sy teiken wat reeds bereik is. Woordvoerder, Steve Mabona, sê die departement beoog om teen 31 Julie al die beloofde prosedures van een-duisend-326, af te handel:
# Amptenare van Jemen, Westerse diplomate en ontleders sê die land is op pad na die hervatting van ‘n meer as dekade oue konflik. Dit kom terwyl aanvalle op Saoedi-infrastruktuur en -skeepvaart deur Houthi’s met Iranse bande die geduld van die koninkryk en Jemen se ondersteunende regeringsmagte toets. Houthi- en Jemen-magte het die afgelope dae ‘n frontlinie opgebou wat strek van die Houthi-beheerde noordweste van Jemen tot die Rooi See-kus en die Saoedi-grens. Houthi-magte het ook met die afsperring van die Rooi See gedreig.
# Sokker: Die 2026 Afrika-Nasiebeker vir vroue begin vandag in Marokko, met ‘n rekord van 16 deelnemende lande wat meeding om kontinentale eerbewyse en plekke by die FIFA Wêreldbeker vir Vroue in 2027 in Brasilië. Die vier halfeindspanne sal outomaties kwalifiseer, terwyl kwarteindspanne wat verloor, sal meeding om twee interkontinentale uitspeelplekke. Banyana Banyana is onder die gunstelinge saam met die tienmalige kampioene Nigerië en gasheerland Marokko. Groep A-wedstryde word vandag beslis, met Algerië wat teen Senegal in die openingswedstryd te staan kom. Banyana kom môreaand teen Tanzanië in Groep B te staan.
# En ten slotte: ‘n Nuwe tuberkulose-navorsingsprojek onder leiding van die Universiteit Stellenbosch is besig om ‘n KI-gedrewe diagnostiese instrument te ontwikkel wat borskas-X-straalanalise kombineer met ‘n eenvoudige vingerpunt-bloedtoets. Die AddiCAD-projek is daarop gemik om TB-opsporing te verbeter, veral in hulpbronbeperkte gemeenskappe, deur vals-positiewe uitslae te verminder terwyl akkuraatheid gehandhaaf word. Navorsers sê die innovasie kan diagnose en behandeling vir duisende pasiënte versnel. Kliniese proewe met ongeveer een-duisend volwassenes sal oor die volgende drie jaar in Suid-Afrika, Namibië en Gambië plaasvind.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….