Nuus 16:00
BULLETIN 24 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi sê parlementêre toesig moet voortduur
# Tshwane se burgemeester verdedig haar rol in die hofgeding oor die munisipale bestuurder en finansiële hoof
# En die hoof van Krieket Australië is ten gunste van ‘n toets teen Engeland in Indië
# RISE Mzansi sê hy sal die Wes-Kaapse Hooggeregshof se beslissing bestudeer om president Cyril Ramaphosa ‘n tussentydse interdik toe te staan wat die openbare verhore van die Artikel 89-ampsklagkomitee staak. Die verrigtinge is opgeskort hangende ‘n geregtelike hersiening van die onafhanklike paneel se verslag oor die Phala Phala-aangeleentheid. Mabine Seabe van RISE Mzansi sê die party sal die uitspraak deeglik bestudeer, maar parlementêre aanspreeklikheid moet steeds voorkeur kry:
# Tshwane se burgemeester, Nasiphi Moya, sê sy het te goeder trou en binne haar wettige magte opgetree in sake rakende die munisipale bestuurder, Johann Mettler, en die finansiële hoof, Gareth Mnisi. Dit volg nadat die DA en Solidariteit hofsake aanhanging gemaak het wat onlangse raadsbesluite betwis. Moya se woordvoerder, Samkelo Mgobozi, sê die aansoeke om tussentydse verligting word Dinsdag aangehoor en die hoofsaak sal later beslis word:
# Die DA eis Johannesburg se burgemeester, Dada Morero, moet seker maak verkeersbeamptes van die Metropolisie word aangekla nadat hulle ‘n motoris aangerand het. Die paneelbordkamera wys hoe beamptes ‘n bestuurder aftrek voordat een van hulle hom begin wurg. Solomon Maila van die DA sê die voorval gee ‘n slegte naam aan die Departement vir Openbare Veiligheid. Hy sê daar moet ontslae geraak word van alle skurkagtige beamptes:
# Die ekonomiese navorsingsgroep Trade and Industrial Policy Strategies sê Suid-Afrika moet groen nywerheids- en ontwikkelingsgeleenthede integreer om mededingend te bly in die internasionale energie-oordrag. Navorsers sê gesamentlike beleide kan belegging aanvuur, werk skep en nywerhede soos hernubare energie, batterye en groen staal ondersteun. Hulle waarsku die land moet swaar nywerhede opgradeer, plaaslike vervaardiging versterk en nywerheidstrategieë met klimaatsdoelwitte belyn om volhoubare ekonomiese groei en langtermyn-mededingendheid te verseker.
Nou sportnuus:
# Die uitvoerende hoof van Krieket Australië, Todd Greenberg, is ten gunste van die idee van ‘n eenmalige toets teen Engeland in Indië. Die beheerliggaam brei tans sy teenwoordigheid in Indië uit met ‘n Big Bash-wedstryd wat die eerste keer daar plaasvind. Die openingswedstryd van die seisoen tussen Melbourne Renegades en Perth Scorchers word in Desember in Chennai gespeel. Greenberg glo die eenmalige wedstryd sal toetskrieket verder vestig in die moderne ruimte, maar het toegegee dit sal moeilik wees om tyd op die almanak te vind.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-55-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-57-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-94-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….