Nuus 15:00
BULLETIN 24 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Artikel 89-komitee bestudeer die hofuitspraak oor die ampsklagproses
# Zuma neem beheer van die MK-party se geldsake
# En rugby: Die Leeus kies twee Junior Bokke vir die Curriebekerwedstryd teen die Pumas
# Die Artikel 89-ampsklagkomitee bestudeer die Wes-Kaapse Hooggeregshof se uitspraak wat sy openbare verhore oor president Cyril Ramaphosa se ampsklagproses tydelik gestaak het. Voorsitter Makashule Gana sê die interdik is van toepassing op die openbare verhore hangende Ramaphosa se hersieningsaansoek. Hy sê die komitee sal die volledige uitspraak noukeurig bestudeer om te bepaal watter dele van sy werksaamhede nog kan voortgaan terwyl die hofhersieningsproses afgehandel word:
# Partyleier Jacob Zuma het beheer geneem van die MK-party se geldsake en die tekenregte herroep van alle ondertekenaars op die party se bankrekeninge, insluitend senior party-ampsdraers. Die stap volg ná bewerings van finansiële wanbestuur en fondse wat vermis word. Zuma sê hy het homself as rekenpligtige beampte aangestel om finansiële bestuur en aanspreeklikheid te versterk. Hy sê die opskorting van tekenregte is tydelik terwyl nuwe finansiële beheermaatreëls en gemagtigde ondertekenaars aangewys word.
# Die Johannesburgse Metropolisiedepartement stel ondersoek in nadat ‘n video aan die lig gekom het waarin beamptes ʼn motoris aanrand. Op die beeldmateriaal wat met ʼn paneel-kamera geneem is, trek beamptes ʼn motoris af, waarna een sy hande om die motoris sit en hom begin wurg. Die departement se woordvoerder, Xolani Fihla, sê hulle veroordeel enige magsmisbruik, wangedrag of optrede wat die publiek se vertroue ondermyn:
# Statistiek Suid-Afrika sê kleinhandelverkope het in Mei met 2,3-persent gestyg in vergelyking met dieselfde maand verlede jaar, wat voortgesette groei in verbruikersbesteding toon. Die grootste toenames het van ander kleinhandelaars, klerasie- en skoeiselwinkels en algemene handelaars gekom. Raquel Floris van Statistiek SA sê oor die drie maande tot Mei was kleinhandelverkope twee-persent hoër as in dieselfde tydperk verlede jaar, wat dui op voortgesette bestendige groei in die kleinhandelsektor:
# Rugby: Twee van die Leeus se agt Junior Springbokke speel môre in die Curriebeker-wedstryd teen die Pumas in Johannesburg terwyl die ander ‘n blaaskans kry nadat hulle die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië ingepalm het. Mahle Sithole en Thando Biyelo is albei in die beginspan, onderskeidelik as haker en flank. Asad Moos begin op die bank in sy eerste wedstryd vir die gashere nadat hy van die Stormers verskuif het. Die Leeus het verlede naweek se eersteronde-wedstryd teen die Cheetahs verloor, en die Pumas het teen die Haaie vasgeval.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-87-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 22-rand-48-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-994-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-60-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….