Nuus 13:00
BULLETIN 24 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa verwelkom die tydelike staking van sy ampsklagproses
# Carney sê Kanada is gereed om te reageer as nuwe Amerikaanse tariewe in werking tree
# En Kaapstad is op die lys van die wêreld se mooiste stede
# President Cyril Ramaphosa verwelkom die Wes-Kaapse Hooggeregshof se aanvaarding van sy dringende aansoek om die Parlement se Artikel 89-ampsklagproses tydelik te staak. Die interdik bly van krag hangende die uitslag van die hersieningsaansoek waarin hy die wettigheid van die onafhanklike paneel se verslag oor die Phala Phala-aangeleentheid betwis. Woordvoerder Vincent Magwenya sê Ramaphosa respekteer die uitspraak en herbevestig sy verbintenis tot geregtelike onafhanklikheid, die skeiding van magte en grondwetlike aanspreeklikheid:
# Soil of Africa vra die regering om praktiese maatreëls in te stel om kwesbare huishoudings te beskerm teen stygende lewenskoste. Dit volg nadat verbruikersinflasie verlede maand op ‘n jaargrondslag tot vyf-persent gestyg het teenoor 4,5-persent in Mei, die hoogste vlak in twee jaar. Woordvoerder Luzuko Sofute sê die skerp styging in vervoerkoste, aangevuur deur beduidende brandstof-prysverhogings, plaas bykomende druk op huishoudings wat reeds swaarkry:
Nuus uit die buiteland:
# Die Kanadese eerste minister, Mark Carney, sê hulle sal steeds met Amerika onderhandel oor ‘n nuwe handelsooreenkoms, maar kan reageer as nuwe dreigende tariewe in werking tree. President Donald Trump se administrasie het nuwe tariewe van 50-persent op ‘n reeks Kanadese goedere aangekondig wat vanaf 19 Augustus sal geld. Carney sê as ‘n ooreenkoms nie bereik kan word nie, kan hulle besluit om handelsbande met ander markte uit te brei:
# Sokker: Die Suid-Afrikaanse sterre Relebohile Mofokeng en Aden McCarthy is hierdie seisoen moontlik ‘n tree nader aan UEFA-kampioeneliga-aksie. Volgens Soccer Laduma het McCarthy se Azerbeidjanse klub, Sabah FK, KuPS van Finland 1-nul geklop in die eerste wedstryd van hul tweede kwalifiseringsronde en het nog ‘n oorwinning nodig om te vorder. Mofokeng se Belgiese span, Union Saint-Gilloise, betree die derde kwalifiserende ronde teen die Noorweegse span Bodø/Glimt. Oorwinnings sal hulle ‘n stap nader aan die kampioeneliga-fase bring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-928-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-54-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 91-dollar-46-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is aangewys as een van die wêreld se mooiste plekke om in te woon. ‘n Wêreldwye studie plaas die Moederstad agtste op ‘n lys van bestemmings met unieke en ontwerpgerigte verblyf. Dis die hoogste posisie in Afrika en plaas die stad onder die wêreld se mees gesogte reiservarings. Die navorsing het luukse verblyfkeuses in meer as 200 internasionale toeristebestemmings ontleed. Bali is eerste op die lys, gevolg deur Parys en die Yucca-vallei in Kalifornië. Londen, Los Cabos, Saint Barthélemy en Hawaii is ook onder die indrukwekkende top tien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….