Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 24 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons kyk eerste na die Statebondspele: Wayne Rittmuller het Span Suid-Afrika se aanslag op ‘n wennoot afgeskop toe hy sy openingswedstryd in die mans-rolbal-enkelspel gewen het in Glasgow. Die 44-jarige Rittmuller het Harriman Yuen van Singapoer verslaan in hul Afdeling B-kragmeting. Die vroue-paar, Thabelo Muvhango en Jacqui Janse van Rensburg, het hulle Afdeling B-wedstryd teen hul teenstanders van Tonga, Paris Baker en Milika Nathan, verloor. Koning Charles het die Spele amptelik geopen. Meer as drie-duisend atlete gaan elf dae lank in tien sportsoorte meeding.
# Rugby: Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk is weer in die Cheetahs se span wanneer hulle en die Haaie vanaand die naweek se Curriebeker-aksie in Bloemfontein afskop. Die tuisspan het sy veldtog begin met ‘n naelbyt-oorwinning oor die Leeus, terwyl die besoekers die Pumas ook met twee punte verslaan het. Die Leeus verwelkom môremiddag die Pumas in Johannesburg, en Griekwas en die Blou Bulle ontmoet in Kimberley. Sondag gaan die Kaapse bure, Boland en die Stormers-23, in Wellington kragte meet.
Nog rugbynuus: Die afrigter van die Junior Springbok-vroue, Hayden Groepes, het verskeie veranderinge aangebring aan die span wat vandag in Stellenbosch teen Amerika se onder-20s speel in die laaste van twee wedstryde. Die Amerikaners het die eerste kragmeting 47-12 gewen. Beserings het Groepes genoop om veranderinge aan te bring, insluitend ses aan sy agterspelers. Keira Snyman maak haar buiging op linkervleuel. Groepes sê hulle fokus om die span se diepte te versterk:
# Krieket: Toetse sal op Trent Bridge in Nottingham, Lord’s in Londen, Edgbaston in Birmingham, Southampton en The Oval in Londen gespeel word in volgende jaar se reeks om die As tussen Engeland en Australië. Die toer begin op 18 Junie, terwyl Southampton die heel eerste keer ‘n toets in die reeks sal aanbied wanneer die vierde wedstryd op 21 Julie begin. Die twee lande se vrouespanne sal vanaf 24 Junie in ‘n eenmalige toets op Headingley speel, gevolg deur drie T20s en drie eendagwedstryde.
# En motorsport: Die Mercedes-renjaer George Russell beskryf sy seisoen as ‘n emosionele wipplank nadat hy dit as ‘n gunsteling vir die wêreldkampioenskapstitel begin het. ‘n Battery-fout en ‘n botsing tydens verlede naweek se Belgiese Grand Prix het gelei tot sy tweede onvoltooide wedren. Die Brit is 50 punte agter sy spanmaat, Kimi Antonelli, voor die naweek se Hongaarse Grand Prix, maar sê die stryd om die wêreldkampioenskapstitel is nog nie verby nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….