Nuus 12:00
BULLETIN 24 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa bekom ‘n tydelike interdik teen die ampsklag-proses
# Die Amerikaanse Weermag val Iran die 13de agtereenvolgende dag aan en Teheran gaan voort met vergeldingsaanvalle
# En Kaapstad is op die lys van die wêreld se mooiste stede
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ‘n tussentydse interdik aan president Cyril Ramaphosa toegestaan wat die Parlement se Artikel 89-ampsklagondersoek staak. Die volbank het in ‘n verdeelde beslissing bevind die ampsklagkomitee moet sy verrigtinge opskort hangende die uitslag van die hersieningsaansoek, waarin Ramaphosa die wettigheid van die onafhanklike paneel se verslag oor die Phala Phala-aangeleentheid betwis. Regter André le Grange sê die komitee mag intussen nie met openbare verhore voortgaan nie:
# Die DA sê die bedanking van die Openbare Beleggingskorporasie se raadsvoorsitter, David Masondo, is nie genoeg om vertroue in Afrika se grootste batebestuurder te herstel nie. Dit volg op die voorkomende skorsing van uitvoerende hoof Patrick Dlamini en die bedanking van ses nie-uitvoerende direkteure. DA-woordvoerder Andrew Bateman sê nuwe direkteure sal ‘n moeilike roete moet volg om vertroue te herstel, en die bestuursraamwerk wat die krisis veroorsaak het, moet hervorm word:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse Weermag het sy aanvalle op Iran vir ‘n 13de agtereenvolgende nag voortgesit, en vier mense is volgens berigte dood. Amerika se Sentrale Bevel sê Iranse militêre bevelsentrums, bergingsgeriewe vir hommeltuie, kommunikasie-netwerke, kuswaarnemingsposte en maritieme vermoëns is geteiken. Volgens die Weermag sal dit Iran se bedreiging vir burgerlike seevaarders en handelskepe in die Seestraat van Hormoes verder beperk. Iran het intussen aanvalshommeltuie afgevuur op Amerikaanse teikens op die Lugmagbasisse Sheikh Isa in Bahrein en Al-Azraq in Jordanië.
# Rugby: Die afrigter van die Junior Springbok-vroue, Hayden Groepes, het verskeie veranderinge aangebring aan die span wat vandag in Stellenbosch teen Amerika se onder-20s speel in die laaste van twee wedstryde. Die Amerikaners het die eerste kragmeting 47-12 gewen. Beserings het Groepes genoop om veranderinge aan te bring, insluitend ses aan sy agterspelers. Keira Snyman maak haar buiging op linkervleuel. Groepes sê hulle fokus om die span se diepte te versterk:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-84-sent teen die dollar, 19-rand-17-sent teen die euro en 22-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-322-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-47-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 92-dollar-52-sent per vat.
# En ten slotte: Kaapstad is aangewys as een van die wêreld se mooiste plekke om in te woon. ‘n Wêreldwye studie plaas die Moederstad agtste op ‘n lys van bestemmings met unieke en ontwerpgerigte verblyf. Dis die hoogste posisie in Afrika en plaas die stad onder die wêreld se mees gesogte reiservarings. Die navorsing het luukse verblyfkeuses in meer as 200 internasionale toeristebestemmings ontleed. Bali is eerste op die lys, gevolg deur Parys en die Yucca-vallei in Kalifornië. Londen, Los Cabos, Saint Barthélemy en Hawaii is ook onder die indrukwekkende top tien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….