Nuus 06:00
BULLETIN 24 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Lesetja Kganyago waarsku brandstofpryse kan inflasie hoog hou
# Die MK-party gaan strafregtelike klagtes teen Andrea Johnson en Shamila Batohi indien
# En rugby: Die Cheetahs en Haaie skop die naweek se Curriebeker-kragmetings af
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het gewaarsku stygende globale oliepryse, gedryf deur die konflik in die Midde-Ooste, kan inflasie langer hoog hou. Die president, Lesetja Kganyago het aan die media gesê hoewel plaaslike petrol- en dieselpryse onlangs gedaal het, bly volgehoue stygings in oliepryse ‘n groot risiko. Kganyago sê as oliepryse hoog bly, sal rentekoerse dalk langer hoër moet bly om inflasie onder beheer te hou:
Kganyago, sê ook voortdurende wêreldwye onsekerheid, veral die konflik in die Midde-Ooste en wisselvallige oliepryse, kan leenkoste langer hoog hou. Die Monetêre Beleidskomitee het die terugkoopkoers onveranderd op sewe-persent gelaat. Kganyago sê inflasierisiko’s bly hoog en toekomstige rentekoersbesluite sal afhang van inkomende ekonomiese data, inflasietendense en wêreldwye verwikkelings:
# Die MK-party sê hy gaan strafregtelike klagtes indien teen die hoof van die Ondersoekdirektoraat Teen Korrupsie, Andrea Johnson, na aanleiding van haar getuienis voor die Madlanga-kommissie. Sy het erken dat sy teenstrydige getuienis gelewer het toe sy verlede jaar voor die Parlement se ad hoc-komitee verskyn het, wat ondersoek instel na misdaadsindikate se infiltrasie van die strafregstelsel. David Skosana van die MK-party sê Johnson het meineed gepleeg en hy wil hê dit moet in die komitee se konsepverslag ingesluit word. Die party gaan ook ‘n saak van meineed aanhangig maak teen die voormalige Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, advokaat Shamila Batohi.
# Die Stad Johannesburg het 13 beweerde gevalle van finansiële wangedrag van byna vier-miljard-rand na sy onafhanklike dissiplinêre raad vir ondersoek verwys. Die bewerings sluit in ongemagtigde, onreëlmatige en verkwistende uitgawes wat verband hou met moontlike oortredings van finansiële en voorsieningskettingwette. Die stad sê die stap is daarop gemik om aanspreeklikheid en bestuur te versterk, en beklemtoon geen amptenaar is skuldig bevind nie en alle bewerings sal deur die korrekte regsproses ondersoek word.
# Terwyl die gewapende konflik tussen die VSA en Iran steeds toeneem, het oliepryse gister vir die eerste keer sedert Mei een-duisend-679-rand-39-sent per vat bereik. Brent-ruolie, die wêreldwye olie-maatstaf, het met meer as ses-persent gestyg. Pryse het gestyg nadat die Houthi-militante in Jemen twee Saoedi-Arabiese olietenkskepe in die Rooi See aangeval het, dae nadat die groep ‘n vlootblokkade op Saoedi-skepe aangekondig het. Riaad het miljoene vate van sy olie-uitvoere vanaf die Straat van Hormoes hierheen herlei.
# Rugby: Die Springbok-skrumskakel Faf de Klerk is weer in die Cheetahs se span wanneer hulle en die Haaie vanaand die naweek se Curriebeker-aksie in Bloemfontein afskop. Die tuisspan het sy veldtog begin met ‘n naelbyt-oorwinning oor die Leeus, terwyl die besoekers die Pumas verslaan het. Die Leeus verwelkom môremiddag die Pumas in Johannesburg, en Griekwas en die Blou Bulle ontmoet in Kimberley. Sondag gaan die Kaapse bure, Boland en die Stormers-23, in Wellington kragte meet.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-131-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-49-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 94-dollar-43-sent per vat
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….