Nuus 09:00
BULLETIN 23 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê daar is ‘n ses maande vertraging in die Will for Peace 2026-ondersoek
# Brittanje onttrek sy ambassadepersoneel tydelik uit Iran
# En die Statebondspele: Meer as drieduisend atlete van 74 lande is gereed om mee te ding
# Die DA sê president Cyril Ramaphosa se beloofde ondersoek na Iran se deelname aan die Will for Peace 2026-vlootoefening, het tot stilstand gekom. Die president het die ondersoek in Februarie vanjaar ingestel en ‘n ondersoekpaneel onder voorsitterskap van regter Bernard Ngoepe aangestel. Chris Hattingh van die DA sê Ramaphosa het in ʼn parlementêre antwoord bevestig dat die ondersoek binne ʼn maand afgehandel moes wees. Hy het egter steeds nie die verslag ontvang nie en dit sal na verwagting eers oor ses maande voltooi wees:
# Die bestuurshoof van Eskom, Dan Marokane, sê die ordelike sluit, heropwekking en heraanwending van ouer steenkoolkragstasies moet ondersteun word deur bewyse, stelselgeskiktheid, nuwe kragopwekking en die gereedheid van die netwerk. Die kragverskaffer het die minimum vrystellingstandaard by agt van sy steenkoolkragstasies verseker. Dit laat hulle toe om voort te gaan waar omgewingsregulasies andersins toegepas sou word. Ses kragstasies het vyf jaar vrystelling gekry en Duvha en Matla het nege jaar wat saamval met hul sluitingdatum in 2034. Marokane sê dis nie Eskom se doel om steenkoolgebruik onverantwoordelik te staak nie:
# Die Gauteng Departement van Menslike Behuising het die DA se bewering verwerp dat die Montrose Mega Stad-projek in Randfontein weens verwaarlosing verlaat is. Die party het Dinsdag ‘n oorsigbesoek aan die behuisingsprojek gebring en gesê dit gaan net agteruit en is ‘n simbool van wanbestuur en verwaarlosing. Die woordvoerder van die departement, Tahir Sema, sê werk aan Montrose is in Junie 2024 tydelik gestaak na die beëindiging van die ontwikkelaar se kontrak weens gebrekkige vordering. Hy sê dit was daadwerklike toerekenbaarheid, nie verwaarlosing nie:
# Brittanje se Buitelandse, Statebond- en Ontwikkelingskantoor het sy diplomatieke personeel weens kommer oor veiligheid tydelik uit Iran onttrek. Ambassade-bedrywighede sal nou van elders gedoen word. Dit volg te midde van president Donald Trump se dreigemente om Iranse infrastruktuur te “bombardeer en vernietig”. Die Britse regering waarsku dat die situasie in die Midde-Ooste onvoorspelbaar bly en sê nog aanvalle en onvoorsiene konflik-toename in die streek is moontlik. Bygewerkte reiswaarskuwings raai Britse burgers af om na Iran te reis.
# Die Statebondspele begin vandag in Glasgow, Skotland. Meer as drie-duisend atlete uit 74 lande sal aan 215 medalje-items in 16 sportsoorte deelneem. Ses van die sportsoorte is geïntegreerde para-sportsoorte. Altesaam 112 Suid-Afrikaanse atlete sal die land verteenwoordig. Glasgow is aangewys nadat die Australiese staat Victoria in Julie 2023 as gasheer van die Spele onttrek het. Glasgow 2026 se uitvoerende hoof, Phil Batty, glo die vereenvoudigde, goedkoper weergawe van die geleentheid kan dit vir toekomstige geslagte red:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-35-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-630-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-126-dollar-69-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-67-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….