Nuus 08:00
BULLETIN 23 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK-party wil hê Ramaphosa moet persoonlik getuienis lewer voor die Ampsklagkomitee
# Frank Chikane word beskou as die mees geskikte ANC-kandidaat teen Helen Zille in Johannesburg
# En die VSA teken ‘n mylpaal-kernooreenkoms met Saoedi-Arabië
# Die MK-party sê president Cyril Ramaphosa moet persoonlik voor die Ampsklagkomitee getuig en kan dit nie deur regsverteenwoordigers doen nie. Dit volg nadat die komitee besluit het sy regsraadgewers moet leiding gee oor die wetlike vereistes van Ramaphosa se verskyning en getuienislewering en die gevolge indien die president besluit om nie te getuig nie. John Hlophe van MK sê Ramaphosa behoort ter voorbereiding tot die ampsklagondersoek eerste getuig:
# Die bestuurshoof van Eskom, Dan Marokane, sê die ordelike sluit, heropwekking en heraanwending van ouer steenkoolkragstasies moet ondersteun word deur bewyse, stelselgeskiktheid, nuwe kragopwekking en die gereedheid van die netwerk. Die kragverskaffer het die minimum vrystellingstandaard by agt van sy steenkoolkragstasies verseker. Dit laat hulle toe om voort te gaan waar omgewingsregulasies andersins toegepas sou word. Ses kragstasies het vyf jaar vrystelling gekry en Duvha en Matla het nege jaar wat saamval met hul sluitingdatum in 2034. Marokane sê dis nie Eskom se doel om steenkoolgebruik onverantwoordelik te staak nie:
# Terwyl die ANC binnekort sy burgemeesterskandidate sal aanwys, blyk eerwaarde Frank Chikane die voorloper te wees vir Johannesburg se burgemeesterskandidaat. Dit volg na berigte dat die huidige burgemeester Dada Morero nie genoeg ondersteuning in die party se benoemingsproses kon kry nie. Chikane, wat ook voorsitter is van die ANC se integriteitskomitee, word blykbaar beskou as ‘n stabiliserende figuur en mees geskikte kandidaat om teen Helen Zille van die DA te staan. Aaron Maluleke en Ntombi Mekgwe is onderskeidelik voorlopers in Tshwane en Ekurhuleni.
# President Donald Trump van Amerika het ʼn belangrike kern-ooreenkoms met Saoedi-Arabië onderteken wat die Golf-koninkryk sal toelaat om ʼn burgerlike kernenergie-program met ondersteuning van Amerikaanse maatskappye te ontwikkel. Saoedi-Arabië wat lank reeds ʼn Amerikaanse bondgenoot is, huisves talle Amerikaanse basisse wat deur Iran aangeval is. Die ooreenkoms word nou na die Kongres verwys vir ʼn verpligte hersieningsperiode. Amerika se minister van Energie, Chris Wright, sê die ooreenkoms sal na verwagting die uitvoer van Amerikaanse kerntegnologie uitbrei en die stand van Amerika se energie en nasionale veiligheid versterk:
# Sokker: Die Konfederasie van Afrika-sokker het die prysgeld vir die Vroue-Afrikabeker, wat Sondag in Marokko begin, aansienlik verhoog. Volgens die nuwe struktuur sal die kampioene nou byna 33-miljoen-rand ontvang, die naaswenners 12,4-miljoen-rand, en die span wat derde is, 8,2-miljoen-rand. Elkeen van die 16 nasionale vrouespanne wat deelneem, ontvang 2,5-miljoen-rand. CAF-president Patrice Motsepe sê die finansiële hupstoot beklemtoon hul toewyding aan groei en die langtermyn-volhoubaarheid van vroue-sokker in Afrika:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-69-sent teen die euro en 21-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-607-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-130-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-90-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….