Nuus 13:00
BULLETIN 3 Februarie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Adjunk-president Mashatile besoek verskeie stemdistrikte in Gauteng
# Die DA vaar vir eerste keer beter as die ANC met nuwe registrasies
# En, sokker: Suid-Afrikaners staan vanaand bankvas agter Bafana in die Afcon-kwarteindronde
# Adjunk-president Paul Mashatile besoek vandag verskeie stemdistrikte in Gauteng, insluitend sy eie in Kelvin, Johannesburg. Hy doen ‘n beroep op alle stemgeregtigdes om te registreer of hulle registrasie by die Onafhanklike Verkiesingskommissie voor die verkiesings te bevestig. Die OVK het aangedui hy is gereed om stemgeregtigde Suid-Afrikaners by 23-duisend-303 stemlokale oral in die land te verwelkom. Registrasiesentrums is tot vyfuur vanmiddag en ook môre oop.
Die DA het intussen bekend gemaak hy het vir die eerste keer die geskiedenis beter as die ANC gevaar in nuwe kiesersregistrasies en herregistrasies. Greg Krumbock van die DA sê onlangse registrasie-data toon die party se sukses om die grootste aandeel in nuwe en herregistrasies te verkry. Die OVK het tussen 23 November verlede jaar en 5 Januarie 162-duisend-598 nuwe en herregistrasies aangemeld. Sewe-en-dertig-persent het na die DA gegaan en slegs 33,8-persent na die ANC:
# Twee buitelanders van 47- en 54-jaar is in Hillbrow aangekeer vir beweerde bedrog. Daar is gevind hulle het as mediese dokters gepraktiseer terwyl hulle nie as by die raad ingevolge die Wet op Beroepsgesondheidspraktisyns geregistreer is nie. Die Johannesburgse metropolisie het gister inligting ontvang die verdagtes het mediese sertifikate uitgereik en agterstraat-aborsies uitgevoer. ‘n Woordvoerder van die JMPD, Xolani Fihla, sê beamptes het die saak opgevolg en mense dopgehou wat by die gebou in- en uitgegaan het:
# Die Amerikaanse weermag het lugaanvalle in Irak en Sirië op meer as 85 teikens geloods wat verbind word met Iran se Rewolusionêre Wagte en militêre groepe wat hy steun. Dit is as vergelding vir verlede naweek se aanval in Jordanië waarin drie Amerikaanse troepe gedood is. Die aanvalle sluit die gebruik van langafstand B-1-bomwerpers in wat in Amerika opgestyg het. Nog Amerikaanse militêre optrede word in die komende dae verwag. President Joe Biden sê die land se optrede sal op tye en plekke van hulle keuse voortgesit word.
# En sokker: Die hele Suid-Afrika se hoop is vanaand op Bafana Bafana gevestig wanneer hulle teen die Kaap Verdiese Eilande te staan kom in die kwarteindronde van die Afrikabekertoernooi in Ivoorkus. Die span het verras deur die beste span op die vasteland, Marokko, in die ronde van 16 te verslaan. Nigerië het gisteraand vir die halfeindstryd kwalifiseer na ‘n taai 1-0 oorwinning oor Angola. En die DR Kongo, wat ‘n ruk lank agter was, het Guinee 3-1 geklop vir hulle plek in die halfeinstryd. Mali speel teen die gasheerland in vandag se ander kwarteindstryd.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….