Nuus 07:00
BULLETIN 23 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee soek regsadvies oor Ramaphosa se moontlike verskyning
# Eerste Nasionale Bank waarsku inflasierisiko’s sal voortduur ondanks laer oliepryse
# En Donald Trump dreig om ’n brug of kragsentrale te vernietig vir elke skip wat Iran in die Straat van Hormoes aanval
# Die parlementêre Ampsklagkomitee het sy regsadviseurs versoek om riglyne te gee oor die regsposisie wat president Cyril Ramaphosa se verskyning of getuienis voor die kommissie betref. ‘n Onafhanklike paneel het bevind daar is ʼn prima facie-saak dat Ramaphosa moet antwoord op bewerings wat verband hou met die diefstal van buitelandse valuta op sy Phala Phala-plaas in Limpopo in 2020. Die komiteevoorsitter, Makashule Gana, sê die regsadvies moet ook riglyne gee oor wat moet gebeur indien die president besluit om nie te getuig nie:
# FNB sê inflasierisiko’s bestaan steeds ondanks onlangse dalings in oliepryse, aangesien voortdurende geopolitieke spanning in die Midde-Ooste steeds brandstof- en energiekoste kan opstoot. Die bank verwag inflasie sal hierdie maand effens daal, maar waarsku die onsekerheid is steeds hoog. Die FNB-ekonoom, Ame Muller, verwag die Suid-Afrikaanse Reserwebank sal die terugkoopkoers met nog 25 basispunte verhoog tydens hierdie week se Monetêre Beleidskomitee-vergadering.
# ActionSA het ‘n aanlyn portaal bekendgestel vir inwoners om die beweerde onwettige besetting van HOP-huise deur buitelandse burgers aan te meld. Zandile Dabula van die party sê die platform is daarop gemik om korrupsie in behuisingstoekennings bloot te lê en te verseker dat regeringshuise na kwalifiserende Suid-Afrikaners gaan. Dabula sê verslae wat met ondersteunende bewyse ingedien word, sal beoordeel word voor dit verder verwys word, en alle inligting sal vertroulik bly:
# Die Spesiale Tribunaal het die Nasionale Lotery-kommissie se toelaag van vier-miljoen-rand aan die Mshandukani-stigting as ongerymd verklaar en beveel dat dit met rente terugbetaal word. Die Spesiale Ondersoekeenheid het bevind die stigting het in Februarie 2019 aansoek gedoen vir geld om ʼn gemeenskapsontwikkeling-projek te begin wat skoon water aan gemeenskappe in die Oos-Kaap sou voorsien. Die projek sou agt-duisend-en-15 mense bevoordeel en 15 tydelike werksgeleenthede skep. Die Spesiale Ondersoekeenheid het egter bevind dat die meeste van die geld herlei is na instellings wat bande het met die stigting se leierskap.
# President Donald Trump van Amerika dreig om een brug of kragaanleg te vernietig elke keer as Iran ʼn skip aanval wat deur die Straat van Hormoes vaar. Hy het voorheen gedreig om Iran se burgerlike infrastruktuur te teiken. Dit volg nadat die Amerikaanse weermag Dinsdag die elfde agtereenvolgende nag aanvalle op Teheran uitgevoer het. Iran het intussen gesê as Amerika ʼn Iranse brug of kragaanleg teiken, sal hy wraak neem met aanvalle op infrastruktuur en brûe reg oor die streek, insluitend energie-fasiliteite waarin Amerika belang het.
# Krieket: Afghanistan het die ervare Rahmat Shah as die nuwe kaptein van hul eendagwedstryd- en toets-spanne aangestel, met Rahmanullah Gurbaz as onderkaptein. Die verandering volg nadat Hashmatullah Shahidi Dinsdag uitgetree het na ʼn vyfjaar-termyn waartydens Afghanistan sesde was in die 2023-Wêreldbeker. Rahmat se eerste taak as kaptein sal volgende maand se eendagreeks van vyf wedstryde teen Ierland wees. Die Afghanistan-krieketraad sê met Shah se uitgebreide ervaring in internasionale krieket, leierskap en die span se algehele struktuur, is hy heeltemal in staat om die belangrike verantwoordelikheid te dra.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-36-sent teen die dollar, 18-rand-67-sent teen die euro en 21-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-744-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-125-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 91-dollar-38-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….