Nuus 16:00
BULLETIN 22 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Hoof van die Ondersoekdirektoraat verduidelik Padayachee se Artikel 27-verwysing in die Khumalo-saak
# Rubio sê Amerika is steeds bereid om oor die Iranse krisis te onderhandel
# En rugby: 43 spelers sluit Sondag aan by die Bok-oefenkamp in Johannesburg
# Die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, het voor die Madlanga-kommissie getuig die senior ondersoeker Brian Padayachee het die Artikel 27-verwysing in die ondersoek waarby die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, betrek word, eers ontvang nadat hy by die saak aangesluit het. Johnson het op vrae van voorsitter Mbuyiseli Madlanga toegegee Padayachee het vroeër daarvan kennis gedra, maar die amptelike regsdokument eers later ontvang en volledig bestudeer:
# Die Ahmed Kathrada-stigting verwelkom die Hooggeregshof in Johannesburg se bevel vir die beslaglegging op 326-miljoen-rand se bates van die Hangwani Maumela-sindikaat, maar sê dis nie genoeg nie. Woordvoerder Anele Gcwabe vra die Nasionale Vervolgingsgesag om almal betrokke by die beweerde korrupsieskandaal van twee-miljard-rand in die Tembisa-hospitaal in Gauteng strafregtelik te vervolg, en betrokke ondernemings op ‘n swartlys te plaas. Sy eis groter deursigtigheid oor hangende strafsake en inhegtenisnemings:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hulle is steeds bereid om oor ‘n einde aan die Iranse krisis te onderhandel, maar Teheran neem die gesprekke nie ernstig op nie. Die toenemende konflik het twee van die wêreld se belangrikste energievervoer-roetes ontwrig. Rubio het ‘n vergadering van Suidoos-Asiatiese ministers bygewoon, ‘n dag nadat drie olietenkskepe met Saoediese ruolie onderweg na Asië in die Rooi See omgedraai het, waarskynlik weens dreigemente deur Jemen se Irans-gesteunde Houthi-rebelle. Die Houthi’s het Maandag ‘n vlootversperring teen Saoedi-Arabië aangekondig.
# Rugby: Drie-en-veertig spelers gaan Sondag aansluit by ‘n Springbok-oefenkamp in Johannesburg. Afrigter Rassie Erasmus het tien ervare spelers genooi wat terugkeer na beserings, insluitend kaptein Siya Kolisi, Eben Etzebeth en Sacha Feinberg-Mngomezulu, terwyl vyf spelers vir hulle unies beskikbaar gestel is vir weekdag-wedstryde teen die All Black-toerspan. Die Bokke word later in twee groepe verdeel – een reis na Argentinië om die Pumas op 8 Augustus te pak, en die res bly agter om te begin voorberei vir die toetsreeks teen die All Blacks.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-78-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-836-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-128-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-33-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse regering is verkies tot visepresident van ‘n wêreldwye netwerk van subnasionale regerings wat klimaatsake, bioverskeidenheid en volhoubare ontwikkeling aanvuur, Africa of Regions4. Die aanstelling is tydens die netwerk se algemene vergadering bevestig. Die Gautengse LUR vir Omgewingsake, Ewan Botha, sê die rol sal Afrika se stem in wêreldwye klimaatbesprekings versterk, toegang tot klimaatbefondsing verbeter en samewerking tussen Afrika-streke bevorder om klimaatsverandering aan te pak en veerkragtigheid te bou:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….