Nuus 15:00
BULLETIN 22 Julie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Nosiviwe Mapisa-Nqakula pleit onskuldig in haar korrupsieverhoor
# Junie se inflasiekoers styg tot die hoogste vlak in twee jaar
# En AfriForum vra die regering om die onwettige nommerplaatbedryf vas te vat
# Die voormalige speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het onskuldig gepleit op 12 aanklagte van korrupsie en een van geldwassery aan die begin van haar verhoor in die Hooggeregshof in Pretoria. Dit hou verband met bewerings dat sy tussen 2014 en 2021 tydens haar termyn as minister van Verdediging omkoopgeld van 4,5-miljoen-rand gevra het van ‘n kontrakteur betrokke by Weermag-kontrakte. Mapisa-Nqakula ontken dat sy enige kontant ontvang het. ‘n Sleutelgetuie, die kontrakteur Nombasa Ntsondwa-Ndhlovu, sal na verwagting getuig nadat vrywaring toegestaan is.
# Suid-Afrika se verbruikersinflasiekoers het verlede maand tot vyf persent gestyg teenoor 4,5 persent in Mei – die hoogste sedert Junie 2024 toe dit op 5,1 persent gestaan het. Statistiek Suid-Afrika sê vervoer, behuising en nutsdienste was die hoofbydraers tot die toename. Die hoër inflasiekoers weerspieël stygende kostes waarmee huishoudings en sake-ondernemings te kampe het. Patrick Kelly van Statistiek SA sê beleidmakers monitor steeds prysdruk in die ekonomie.
# Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Bantu Holomisa, sê vennootskappe tussen die openbare en privaat sektor kan help om Suid-Afrika se verdedigingsvermoë te versterk ondanks beperkte staatsbefondsing. Hy het tydens die verdedigingsbedryf se lekgotla in Pretoria aan die SABC gesê sulke vennootskappe kan militêre behuising, infrastruktuur, grensveiligheid en die opknapping van toerusting ondersteun sonder om nasionale veiligheid in gedrang te bring. Holomisa vra vernuwende befondsingsmodelle, beter benutting van Weermag-grond en groter beleggings vanuit die privaat sektor.
# AfriForum sê die regering moet dringend misdaad in die nommerplaatbedryf vasvat om die verspreiding van nagemaakte en gekloonde nommerplate te stop. Die organisasie sê swak wetstoepassing het dit makliker gemaak vir misdadigers om te oortree en opsporing te vermy. Louis Boshoff van AfriForum het die besluit verwelkom om die uitrol van Gauteng se nuwe nommerplaatstelsel te vertraag totdat beweerde oortredings in die bedryf aandag gekry het:
# Hokkie: Die GOOD-party sê die Departement van Sport, Kuns en Kultuur moet Suid-Afrika se hokkiespelers finansieel ondersteun in plaas daarvan om miljoene op amptenare se Wêreldbeker-reise te bestee. Die party se nasionale jeugorganiseerder, Kaden Arguile, sê die Suid-Afrikaanse Hokkiefederasie se openbare oproep vir skenkings is ‘n verleentheid. Hy sê spelers word elke jaar uitgestuur sonder finansiële steun terwyl van hulle verwag word om die land met trots te verteenwoordig:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 21-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-24-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-117-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-64-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….