Nuus 14:00
BULLETIN 22 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die borgtogaansoek van die beskuldigde in ‘n driedubbele moord in Brittanje is laat vaar
# Rugby: Die Italiaanse stut Marco Riccioni is vir twee wedstryde geskors
# En ‘n regstreekse skakel van Binnelandse Sake versterk SASSA se stelsel
# ‘n Brit wat beskuldig word van die moord op sy vrou en twee dogters in Brittanje, het sy borgtogaansoek laat vaar in die Johannesburgse Landdroshof. Die staat sê Ndodana Tshuma is ‘n onwettige voortvlugtige nadat hy na bewering uit Brittanje gevlug het voor sy gesin se liggame ontdek is. Hy word in Suid-Afrika beskuldig van die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen. Tshuma se regsverteenwoordiger sê hulle sal nie in hierdie stadium borgtog vra nie. Die saak is uitgestel tot Maandag.
# Soil of Africa verwelkom drie Hoofstuk 9-instellings se ondersoek na die strafregstelsel se reaksie op geslagsgeweld en vrouemoord. Dit het ten doel om tekortkominge in die aanmelding van sake, ondersoeke en ondersteuning aan slagoffers te ontbloot en aanbevelings te ontwikkel om aanspreeklikheid en toegang tot geregtigheid te versterk. Woordvoerder Luzuko Sofute sê die ondersoek verteenwoordig ‘n beduidende grondwetlike ingryping in ‘n tyd waarin Suid-Afrika steeds kommerwekkend hoë vlakke van geslagsgeweld ervaar:
# Die GOOD-party vra die Openbare Beskermer vir ‘n ondersoek na die Stad Kaapstad se hantering van die voorgestelde verkoop van die Goeie Hoop-sentrum. Die party beweer daar was onreëlmatighede, insluitend burgemeester Geordin Hill-Lewis se openbare bekendmaking van vertroulike tender-inligting voordat bieërs formeel in kennis gestel is. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die terrein moet vir openbare gebruik ontwikkel word eerder as om aan ‘n privaat koper verkoop te word:
# Rugby: Die Italiaanse stut, Marco Riccioni, is vir twee klubwedstryde geskors nadat hy ‘n rooikaart gekry het in sy span se nederlaag van 57-10 in die Nasieskampioenskaps-wedstryd teen Australië in Perth. Hy was op die kantlyn toe hy in die tweede helfte in ʼn onderonsie betrokke geraak het. Die toernooi se vuilspel-hersieningskomitee sê Riccioni se optrede regverdig ʼn skorsing van vier weke, maar dis tot twee verminder na ʼn skulderkenning en sy vorige tugrekord. Hy sal volgende maand twee wedstryde vir Perpignan in Frankryk se Top 14-liga misloop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-46-sent teen die dollar, 18-rand-77-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-914-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-119-dollar-54-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-32-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het die Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se bedrog-voorkomingsmaatreëls verskerp deur ʼn regstreekse vennootskap met die Departement van Binnelandse Sake. Die verbeterde biometriese bevestiging spoor identiteitsbedrog en dubbele toelaag-eise op. Die regering stel elektroniese lewe-sertifisering bekend wat begunstigdes toelaat om digitaal te bepaal of hulle in aanmerking kom. Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, sê SASSA brei sy aanlyn platforms, WhatsApp-dienste en selfoon-aansoekproses uit om toegang te verbeter, kantoorbesoeke te verminder en die administrasie van maatskaplike toelaes te versterk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….