Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 22 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons skop af met rugby: Die Leeus se Curriebeker-groep is versterk met die terugkeer van agt Junior Springbokke ná die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië. Die afrigter, Mziwakhe Nkosi, sê die spelers se terugkeer en die sterk vertonings van verskeie jong spelers in die openingswedstryd-nederlaag teen die Cheetahs, maak die Leeus vir die res van die toernooi en in die toekoms ‘n gedugte teenstander. Hy sê die Junior Bokke sal waarskynlik ‘n blaaskans kry vir die volgende wedstryd teen die Pumas nadat hulle die titel suksesvol verdedig het in Tbilisi, maar sal binnekort by die groep aansluit.
Nog rugbynuus: Die Springbok-legende, Victor Matfield, glo die All Blacks gaan volgende maand deur die Springbokke se aggressiewe verdediging getoets word in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks. Nieu-Seeland het onder die nuwe afrigter, Dave Rennie, minstens vyf drieë gedruk in elk van hul drie Nasieskampioenskaps-oorwinnings oor Frankryk, Italië en Ierland. Matfield sê die Bok-span is op ‘n peil waar dit vir enigiemand baie moeilik gaan wees om hulle onder druk te plaas. Hy sê dit sal die All Blacks se grootste toets wees om teen die wêreldkampioen te staan te kom.
# Motorsport: Die voormalige MotoGP-wêreldkampioen, Fabio Quartararo, hoop om sy loopbaan weer op dreef te kry met die aankondiging dat hy na agt seisoene Yamaha verlaat om by Honda aan te sluit. Die 27-jarige het die titel in 2021 gewen en is die eerste Fransman ooit wat as wêreldkampioen gekroon is. Die volgende jaar het hy tweede geëindig, maar het daarna gesukkel. Hy het ‘n tweejaarkontrak met Honda onderteken wat volgende jaar in werking tree en sal vir die Honda HRC-span jaag op ‘n 850cc-motorfiets. Quartararo is tans 14de in die bestuurders-kampioenskap.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, en die Wimbledon-kampioen, Jannik Sinner, is boaan die inskrywingslyste vir die vroue- en mansenkelspel op die Amerikaanse Ope. Die Australiese Ope-kampioen, Elena Rybakina, 2023 se Amerikaanse Ope-wenner, Coco Gauff, en Roland Garros se wenner, Mirra Andreeva, het ook ingeskryf. Die verdedigende manskampioen, Carlos Alcaraz, wat die laaste twee Grand Slam-toernooie weens ‘n polsbesering misgeloop het, is ook daar, saam met die viermalige kampioen, Novak Djokovic, en die wenner van die Franse Ope, Alexander Zverev. Altesaam 17 voormalige Grand Slam-enkelspelkampioene het ingeskryf.
# En gholf: Die PGA-toer, DP World-toer en die Asiatiese Toer het ‘n nuwe meerjarige vennootskap aangekondig wat tot minstens 2029 sal voortduur. Die PGA-toer en DP World-toer sal deur middel van hul bestaande strategiese vennootskap dadelik met die Asiatiese Toer begin saamwerk om kommersiële en kompetisie-geleenthede te bied. Daar sal ook geleenthede wees wat vanaf volgende jaar se DP World-seisoen voorsiening sal maak vir deelname deur die voorste gholfspelers in Asië. Die Asiatiese Toer was voorheen in ‘n vennootskap met LIV Gholf.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….