Nuus 12:00
BULLETIN 22 Julie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana belê ‘n dringende algemene vergadering nadat nóg raadslede van die Openbare Beleggingskorporasie bedank
# Rugby: Victor Matfield sê die All Blacks kan ‘n moeilike toets teen die Springbokke verwag
# En afstand-werksgeleenthede bereik die hoogste vlak in Suid-Afrika
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n dringende algemene vergadering van die beleërde Openbare Beleggingskorporasie vir volgende week belê waar die oorblywende vyf nie-uitvoerende direkteure moontlik uitgestem kan word. Dit volg nadat nog vier raadslede gister bedank het, wat die getal uitvoerende direkteure wat uitgetree het, op ses te staan bring. Die OBK, wat bates van meer as 3,6-duisend-miljard-rand bestuur, het sy uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, geskors. Volgens berigte sal die oorblywende vyf raadslede, insluitend voorsitter David Masondo, voor die stemmery ʼn voorlegging op die vergadering lewer.
# City Power in Johannesburg sê kabeldiefstal, opsetlike beskadiging en ander infrastruktuurverwante voorvalle het die onderneming in slegs een naweek meer as 311-duisend-rand gekos. Woordvoerder Isaac Mangena sê daar was tussen Donderdag en Sondag 19 voorvalle, insluitend kabeldiefstal, brande by substasies en opsetlike beskadiging. Die grootste enkele diefstal was in Jeppestown waar sowat 400-meter koperkabel gesteel is. Drie verdagtes is in Marshalltown aangekeer nadat hulle na bewering ondergrondse kabels gesteel het:
# Die KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê padveiligheidsoptrede sal verskerp word. Dit volg nadat ‘n oorlaaide minibustaxi met 36 leerders op die eerste dag van die nuwe skoolkwartaal naby Park Rynie gevind is. Woordvoerder Ndabezinhle Sibiya sê die taxi is in beslag geneem en die bestuurder, wat nie ‘n rybewys by hom gehad het nie, is met meer as twee-duisend-rand beboet:
# Rugby: Die Springbok-legende, Victor Matfield, glo die All Blacks gaan volgende maand deur die Springbokke se aggressiewe verdediging getoets word in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks. Nieu-Seeland het onder die nuwe afrigter, Dave Rennie, minstens vyf drieë gedruk in elk van hul drie Nasieskampioenskaps-oorwinnings oor Frankryk, Italië en Ierland. Matfield sê die Bok-span is op ʼn peil waar dit vir enigiemand baie moeilik gaan wees om hulle onder druk te plaas. Hy sê dit sal die All Blacks se grootste toets wees om teen die wêreldkampioen te staan te kom.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-21-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-117-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-57-sent per vat.
# En ten slotte: Geleenthede om van die huis te werk, het in die eerste helfte van die jaar ʼn rekord-hoogtepunt bereik in Suid-Afrika. Volgens die werksplatform, Pnet, se jongste verslag oor arbeidsmark-neigings is afstandwerk-geleenthede 28-persent hoër as ‘n jaar gelede en het die afgelope twee jaar met 41-persent toegeneem. Paul Byrne van Pnet het aan Newzroom Afrika gesê afstands-werksgeleenthede is nie beperk tot die tegnologie-sektor nie, maar het oor ʼn wye reeks bedrywe uitgebrei:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….