Nuus 11:00
BULLETIN 22 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana belê ‘n dringende algemene vergadering nadat nóg raadslede van die Openbare Beleggingskorporasie bedank
# Trum dreig om Iran se ondergrondse kernaanleg aan te val
# En rugby: Victor Matfield sê die All Blacks kan ‘n moeilike toets teen die Springbokke verwag
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het ‘n dringende algemene vergadering van die beleërde Openbare Beleggingskorporasie vir volgende week belê waar die oorblywende vyf nie-uitvoerende direkteure moontlik uitgestem kan word. Dit volg nadat nog vier raadslede gister bedank het, wat die getal uitvoerende direkteure wat uitgetree het, op ses te staan bring. Die OBK, wat bates van meer as 3,6-duisend-miljard-rand bestuur, het sy uitvoerende hoof, Patrick Dlamini, geskors. Volgens berigte sal die oorblywende vyf raadslede, insluitend voorsitter David Masondo, voor die stemmery ʼn voorlegging op die vergadering lewer.
# Die vakverbond Saftu verwerp die regering se besluit om ʼn Ontwikkelingsbeleid-lening van 24,78-miljard-rand van die Wêreldbank te aanvaar. Dit is veronderstel om vertragings met infrastruktuurprojekte te verlig wat bygedra het tot ʼn dekade van swak ekonomiese groei. Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sê die lening is deel van ʼn groter program om neo-liberale herstrukturering te verdiep deur mark-liberalisering, kommersialisering van openbare dienste en groter privaat sektor-deelname aan strategiese staatsinfrastruktuur:
# Die DA in Gauteng vra die LUR vir Paaie en Logistiek, Kedibone Diale-Tlabela, om dringend die spanning in die taxi-bedryf te ontlont. Die Gautengse Nasionale Taxi-alliansie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad dreig om te staak as daar nie vinnig aandag gegee word aan vertragings met die uitreiking van bedryfslisensies en swak kommunikasie oor vervoerbeleid nie. Woordvoerder Evert du Plessis sê Diale-Tlabela moenie die uitreiking van bedryfslisensies vir politieke gewin gebruik nie:
Nuus uit die buiteland:
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, dreig om ʼn kompleks, bekend as Pickaxe Mountain, te tref wat vermoedelik ʼn ondergrondse kernterrein is waar Iran moontlik ʼn onverklaarde verrykingsaanleg bou. Dit is in 2020 aan die Verenigde Nasies se Internasionale Atoomenergie-agentskap verklaar as ʼn toekomstige aanleg om toerusting op te rig wat kernbrandstof vervaardig. Trump sê hy is daartoe verbind om te keer dat Iran ʼn kernwapen vervaardig:
# Rugby: Die Springbok-legende, Victor Matfield, glo die All Blacks gaan volgende maand deur die Springbokke se aggressiewe verdediging getoets word in die Rugby’s Greatest Rivalry-reeks. Nieu-Seeland het onder die nuwe afrigter, Dave Rennie, minstens vyf drieë gedruk in elk van hul drie Nasieskampioenskaps-oorwinnings oor Frankryk, Italië en Ierland. Matfield sê die Bok-span is op ʼn peil waar dit vir enigiemand baie moeilik gaan wees om hulle onder druk te plaas. Hy sê dit sal die All Blacks se grootste toets wees om teen die wêreldkampioen te staan te kom.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-867-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-113-dollar-95-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 90-dollar-46-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….