Nuus 09:00
BULLETIN 22 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Direktoraat Teen Korrupsie ondersoek formele klagtes teen Andrea Johnson
# SAFTU wil hê die Wêreldbank-leningsooreenkoms moet gepubliseer word
# En, Volodymyr Zelensky het Oekraïne se opperbevelhebber afgedank
# Die toesighoudende regter in die kantoor van die Onafhanklike Direktoraat Teen Korrupsie sê hy het formele klagtes ontvang teen die hoof van die direktoraat teen korrupsie, Andrea Johnson. Sy staar ernstige beskuldigings in die gesig, onder meer dat sy die inhoud van ‘n stragregtelike aanklag uitgelek het aan ‘n beskuldigde, die senior Misdaadintelligensie-beampte, Feroz Khan. Die direktoraat se Toesigkantoor sê die klagtes teen Johnson kry aandag ingevolge bestaande prosesse. Die kantoor het beklemtoon die ontvangs van ‘n klagte is nie ‘n skuldigbevinding of ‘n bewys van wangedrag nie.
# Die vakverbond Saftu sê hy verwerp die regering se besluit om ‘n Ontwikkelingsbeleid-lening van 24,78-miljard-rand van die Wêreldbank te aanvaar. Die lening is veronderstel om vertragings met infrastruktuurprojekte te verlig wat bygedra het tot ʼn dekade van swak ekonomiese groei. Saftu se hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, sê die lening is deel van ʼn groter program om neo-liberale herstrukturering te verdiep deur mark-liberalisering, kommersialisering van openbare dienste en groter privaat-sektor-deelname aan strategiese staatsinfrastruktuur:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement veroordeel wat hy noem ʼn roekelose en misleidende mediaverklaring wat die DA uitgereik het. Die party beweer pasiënte by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal ontvang weens tekorte nie noodsaaklike medisyne nie. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê hospitaalbestuur het met Madeleine Hicklin van die DA vergader en vasgestel haar bewerings bevat feitefoute, onder meer dat die tekort aan medikasie in saal vyf was. Hy sê die hospitaal het nie ʼn saal vyf nie:
# President Volodymyr Zelensky van Oekraïne het die land se opperbevelvoerder, generaal Oleksandr Syrskyi, afgedank. Dit volg dae nadat hy die gewilde minister van Verdediging, Mykhailo Fedorov, afgedank het wat landwye betogings veroorsaak het. Zelensky het Syrskyi bedank en erkenning gegee vir sy leierskap in Kiëf se verdediging en die teen-inval in Rusland se Koersk-provinsie in 2024. Syrskyi word vervang deur Mykhailo Drapatyi, ʼn gewilde en ervare generaal. Zelensky sê Drapatyi sal toesig hou oor die herorganisasie van die Oekraïnse weermag se bevelstruktuur. Dit sal hervorming van die militêre korps se stelsel, wapenvoorsiening en hommeltuie insluit.
# Tennis: Die tweemalige verdedigende kampioen, Aryna Sabalenka, en die Wimbledon-kampioen, Jannik Sinner, is boaan die inskrywingslyste vir die vroue- en mansenkelspel op die Amerikaanse Ope. Die Australiese Ope-kampioen, Elena Rybakina, 2023 se Amerikaanse Ope-wenner, Coco Gauff, en Roland Garros se wenner, Mirra Andreeva, het ook ingeskryf. Die verdedigende manskampioen, Carlos Alcaraz, wat die laaste twee Grand Slam-toernooie weens ‘n polsbesering misgeloop het, is ook daar, saam met die viermalige kampioen, Novak Djokovic, en die wenner van die Franse Ope, Alexandra Zverev. Altesaam 17 voormalige Grand Slam-enkelspelkampioene het ingeskryf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-201-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….