Nuus 08:00
BULLETIN 22 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ampsklagkomitee gaan vandag voort met sy werksaamhede
# Pali Lehohla betreur die gebrek aan ekonomiese groei in Suid-Afrika
# En die VSA-Iran-oorlog het tot dusver 615-miljard-rand gekos
# Die parlementêre Ampsklagkomitee vergader vandag virtueel om ‘n getuienisleier te kies. Vyf senior advokate is benoem: Zinzile Matebese, Kate Hofmeyr, Vuyani Ngalwana, Ismail Jamie en Pule Seleka. Hofmeyr en Seleka was ook getuienisleiers by die Zondo-ondersoekkommissie. Die komitee sal ook die konsep-opdrag bespreek. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal Vrydag uitspraak lewer oor president Cyril Ramaphosa se aansoek om ʼn dringende interdik om te keer dat die komitee met sy werk voortgaan voor die onafhanklike paneel se verslag oor Phala Phala hersien is.
# Die voormalige statistikus-generaal, doktor Pali Lehohla, sê Suid-Afrika het ekonomies geweldig onderpresteer. Hy het gister die hoofrede gelewer by die Suid-Afrikaanse Verkiesingskommissie se leierskapseminaar in Centurion. Lehohla sê ongelyke toegang tot hulpbronne en geleenthede het steeds ʼn uitwerking op die manier waarop burgers met die politieke bestel omgaan. Hy sê die land se ekonomiese probleme word veroorsaak deur ʼn korrupte regering wat nie modelle vir ekonomiese groei verstaan nie:
# Die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, het herhaal die provinsiale regering volg ‘n nultoleransie-benadering tot seksuele misbruik, geslagsgeweld en alle ander vorms van geweld teen kinders. Dit volg na die beweerde seksuele misbruik van ‘n leerder deur ‘n opvoeder by die Karabo Laerskool in Soweto. Die beskuldigde bly in aanhouding terwyl die strafregtelike proses in die hof voortgaan. Die LUR se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, sê die beskerming van leerders bly die hoogste prioriteit:
# Amerika se minister van Verdediging, Pete Hegseth, sê Amerika en Israel se oorlog teen Iran kos tot dusver sowat 615-miljard-rand. Dit sluit uitgawes in soos etes vir soldate, en is meer as die vorige raming van byna 476,98-miljard-rand in middel-Mei. Minstens 17 soldate is sedert Februarie in Iran dood en byna 100 is gewond. Hegseth het aan die Senaat se Begrotingskomitee gesê die jongste befondsingsversoek vir sy departement is dringend en noodsaaklik:
# Gholf: Die PGA-toer, DP World Tour, en die Asiatiese Toer het ‘n nuwe meerjarige vennootskap aangekondig wat tot minstens 2029 sal voortduur. Die PGA-toer en DP World Tour sal deur middel van hul bestaande strategiese vennootskap dadelik met die Asiatiese Toer begin saamwerk om kommersiële en kompetisie-geleenthede te bied. Daar sal ook geleenthede wees wat vanaf die 2027 DP World Tour-seisoen voorsiening sal maak vir deelname deur die voorste gholfspelers in Asië. Die Asiatiese Toer was voorheen in ‘n vennootskap met LIV Gholf.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-44-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-201-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-134-dollar-43-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 89-dollar-36-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….