Nuus 06:00
BULLETIN 22 Julie 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die uitspraak in president Ramaphosa se aansoek word Vrydag verwag
# Die regering beoog om 1,5-miljard-rand te bespaar deur toelaes te hersien
# En rugby: Agt Junior Bokke keer terug om die Leeus se Curriebeker-span te versterk
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal Vrydag uitspraak lewer in president Cyril Ramaphosa se dringende aansoek om die Ampsklagkomitee te stop. Hy soek ‘n interdik om die komitee se verrigtinge te stop, hangende ‘n hersiening van die Artikel 89 onafhanklike paneelverslag. Ramaphosa se regspan het verlede week in die hof aangevoer dit sal ‘n vernedering wees om ‘n sittende staatshoof aan ‘n ampsklagondersoek te onderwerp op grond van ‘n gebrekkige verslag. Advokaat Dali Mpofu, wat die MK-party verteenwoordig, het aangevoer Ramaphosa het versuim om ‘n saak vir onherstelbare skade te stel.
# Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Dina Pule, sê die regering beoog om gedurende die 2026/2027-boekjaar 1,5-miljard-rand te bespaar deur middel van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid se hersieningsprogram vir maatskaplike toelaes. Pule het aan die media gesê die hersienings sal verseker dat slegs kwalifiserende begunstigdes toelaes ontvang, terwyl bedrog en verkeerde betalings voorkom word. Sy het gesê die besparings kan na ander regeringsprioriteite herlei word, terwyl die langtermyn-volhoubaarheid van die maatskaplike bystandstelsel beskerm word:
# Die Nasionale Tesourie sê die Wêreldbanklening van 24,78-miljard-rand, tesame met finansiering wat deur ander multilaterale ontwikkelingsvennote verseker is, het die regering in staat gestel om aan sy leningsvereiste van 52,6-miljard-rand buitelandse valuta vir die 2026/2027-boekjaar te voldoen. Die jongste Wêreldbank Ontwikkelingsbeleid-lening aan Suid-Afrika is daarop gemik om infrastruktuurhervormings te ondersteun en inklusiewe ekonomiese groei te bevorder. Die tesourie sê die finansieringsvoorwaardes is in lyn met sy leningstrategie, wat poog om langtermyn-skuldvolhoubaarheid en bekostigbaarheid te handhaaf deur finansiering teen die laagste moontlike koste te verseker.
# Die Forum for South Africa sê die permanente verbeurdverklaring van 325-miljoen-rand se bates wat met die beweerde Tembisa-hospitaalbedrogverdagte, Hangwani Morgan Maumela, verbind word, is ‘n belangrike stap in die stryd teen korrupsie. Tebogo Mashilompane van die Forum glo meer gesteelde bates moet teruggevind word, en almal wat by die skandaal betrokke is, insluitend openbare amptenare, moet in hegtenis geneem en vervolg word. Mashilompane sê korrupsie in die gesondheidsorgsektor ontneem pasiënte van noodsaaklike dienste:
# President Donald Trump sê hulle sal optree teen Jemen se Houthi-rebelle met Iranse bande as hulle hul dreigement om Saoedi-hawens te blokkeer, uitvoer. Die belangrike skeepsroetes van die Rooi See lê langs Jemen se kus. ’n Volledige sluiting van Bab el-Mandeb kan die wêreldwye olievoorraad met sewe-persent verminder. Die Houthi’s se gewapende magte het ‘n maritieme embargo teen Saoedi-Arabië ingestel, in weerwraak teen ‘n Saoedi-blokkade van hawens en lughawens in die Houthi-beheerde noordwestelike Jemen. Trump sê hulle sal seker maak dat Bab el-Mandeb nie gesluit word nie:
# Die Leeus se Curriebeker-groep is versterk met die terugkeer van agt Junior Springbokke ná die Junior Wêreldkampioenskap in Georgië. Die afrigter, Mziwakhe Nkosi, sê die spelers se terugkeer en die sterk vertonings van verskeie jong spelers in die openingswedstryd-nederlaag teen die Cheetahs, maak die Leeus vir die res van die toernooi en in die toekoms, ‘n gedugte teenstander. Hy sê die Junior Bokke sal waarskynlik ‘n blaaskans kry vir die volgende wedstryd teen die Pumas nadat hulle die titel suksesvol in Tbilisi verdedig het, maar sal binnekort by die groep aansluit.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-45-sent teen die dollar, 18-rand-76-sent teen die euro en 22-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-254-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-81-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 88-dollar-89-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….