Nuus 18:00
BULLETIN 21 Julie 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die adjunkminister van Verdediging vra ‘n nuwe befondsingsmodel vir militêre infrastruktuur
# Julius Mkhwanazi en Getuie K word borgtog van vyf-duisend-rand elk toegestaan
# En tennis, die Australiese Ope beperk goedkoop kaartjies om oorvolheid te voorkom
# Die adjunkminister van Verdediging en Militêre Veterane, Bantu Holomisa, het ‘n beroep gedoen op groter samewerking tussen die openbare en privaat sektor om die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag te moderniseer en kritieke befondsingstekorte aan te spreek. Holomisa het by ‘n lekgotla vir die verdedigingsbedryf in Pretoria gesê innoverende vennootskappe kan help om militêre infrastruktuur, behuising, toerusting en tegnologie op te gradeer sonder om nasionale veiligheid in gevaar te stel. Hy het ook die ontwikkeling van ‘n praktiese aksieplan voorgestel om prioriteitsprojekte te identifiseer en beleggings te lok:
# Die geskorste adjunkhoof van die Ekurhuleni Metropolisie, Julius Mkhwanazi, en sy medebeskuldigde, bekend as Getuie K, is in die Johannesburgse Landdroshof op borgtog van vyf-duisend-rand elk vrygelaat. Die twee staan tereg op aanklagte van diefstal, roof, bedrog en korrupsie wat verband hou met die beweerde diefstal van sugilietstene ter waarde van byna 15-miljoen-rand tydens ‘n polisie-klopjag in Killarney in 2023. Mkhwanazi ontken die bewerings en sê Getuie K het bewyse teen hom vervals nadat hul verhouding verbrokkel het.
Intussen ontken die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Advokaat Andrea Johnson, bewerings deur die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, dat die eenheid betrokke was by ondersoeke na sindikate in Gauteng. Johnson het voor die Madlanga-kommissie getuig die direktoraat het geen rol gespeel in ondersoeke waarby die sakeman Katiso “KT” Molefe betrek is nie. Sy sê die eenheid se betrokkenheid by Vusimuzi “Cat” Matlala was beperk tot ‘n verwysing ingevolge Artikel 27 van die SAPD-wet rakende beweerde tenderkorrupsie by Medicare 24:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad sê vertragings met die uitreik van bedryfslisensies plaas finansiële druk op taxi-operateurs en ontwrig openbare vervoer in Gauteng. Die Departement van Vervoer in Gauteng is besig met die hersiening van die lisensiëringstelsel wat daarop gemik is om onreëlmatighede en korrupsie aan te spreek. In ‘n onderhoud met ENCA beweer Graham Fritz van Santaco operateurs loop die risiko dat voertuie gekonfiskeer word terwyl hulle vir lisensies wag:
# Tennis: Goedkoop kaartjies gaan die eerste keer op die Australiese Open beperk word om oorvolheid te voorkom. Die organiseerders sê die Grand Slam-toernooi in Melbourne is in Januarie vanjaar gekenmerk deur lang toue en oorvol paviljoene. Die toewysing van dagpasse, teen 560-rand, sal beperk word vir die eerste week van die toernooi omdat ‘n groter vraag as ooit verwag word. Reuters berig ‘n rekord-skare van 1,3-miljoen het vanjaar se toernooi bygewoon, waar Carlos Alcaraz van Spanje en Elena Rybakina van Kazakstan tot enkelspel-kampioene gekroon is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-47-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-777-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-65-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent ruolie is 88-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….