Nuus 14:00
BULLETIN 21 Julie 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andrea Johnson sê die ondersoek na Dumisani Khumalo is volgens standaardprosedures gedoen
# Anglo American maak sy voorkeurbieër vir De Beers bekend
# En krieket: Australië is versterk met die terugkeer van Cummins, Hazlewood en Lyon vir die toetsreeks teen Bangladesj
# Die hoof van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie, Andrea Johnson, sê die ondersoek na die Misdaadintelligensiehoof, Dumisani Khumalo, het gewone regsprosesse gevolg. Sy het voor die Madlanga-kommissie getuig dis gedoen na ‘n verwysing deur die parlementslid Fadiel Adams ingevolge die Wet op die Nasionale Vervolgingsgesag. Johnson sê sy en die ondersoekbeamptes was onbewus van Khumalo se rol in die taakspan vir politieke moorde en dit het geen invloed op ondersoeke gehad nie:
# Transnet se uitvoerende hoof, Michelle Phillips, sê die staatsbeheerde logistieke maatskappy is besig met die verskerping van verkrygingsbeheer om te verhoed dat te veel vir goedere en dienste betaal word. Sy het tydens die SAPICS 2026-konferensie in Kaapstad gesê sewe maatskappye is op die swartlys geplaas en verskeie werknemers afgedank weens korrupsie. Phillips sê Transnet sal slegs markverwante pryse betaal namate nuwe stelsels ingestel word om bedrog te bekamp. Sy het ook onthul dat Transnet oor vyf jaar 129,1-miljard-rand gaan belê terwyl sekerheidsmaatreëls teen diefstal en sabotasie versterk word.
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die LUR vir Landbou, Ekonomiese Hervorming en Toerisme, Ivan Meyer, verwelkom intussen Transnet se besluit om privaat sektor-vennote vir die Kaapstadse hawe te bekom. Hulle sê verbeterde hawe-doeltreffendheid sal uitvoere versterk, beleggings lok en werk skep. Meyer sê dit sal opeenhoping en vertragings help verlig, sake-koste verlaag en sleutel-sektore steun:
# Anglo American het die Global Diamond Consortium as sy voorkeurbieër vir sy De Beers-diamantonderneming aangewys. Die konsortium sal onder leiding van die voormalige uitvoerende hoof van De Beers, Gareth Penny, eksklusiewe onderhandelings voer om die transaksie af te handel. Hy sê dit vorm deel van Anglo se plan om op koper en ystererts te fokus. Penny sê Botswana, wat ‘n belang van 15-persent in De Beers besit, oorweeg of hy sy voorkoopsreg sal uitoefen en die konsortium se aanbod ewenaar.
# Krieket: Die Australiese boulers Pat Cummins, Josh Hazlewood and Nathan Lyon is ingesluit in die groep van 13 spelers vir volgende maand se twee tuiswedstryde in die Wêreldtoetskampioenskap teen Bangladesj. Hulle is die afgelope 12 maande deur beserings geteister, met kaptein Cummins wat sedert Desember verlede jaar nie gespeel het nie. Marnus Labuschagne, Nathan Lyon, Steve Smith en Mitchell Starc is ook in die groep. Australië is bo-aan die kampioenskapspunteleer, terwyl Bangladesj in die vierde plek is.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-41-sent teen die dollar, 18-rand-75-sent teen die euro en 22-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-323-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-68-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 87-dollar-71-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….