Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 21 Julie 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: SA Rugby se president, Mark Alexander, sê die Springbokke, die Blitsbokke en die Junior Bokke se onlangse oorwinnings weerspieël die diepte van strukture, uitnemende afrigting en die spelers se veerkragtigheid. Die Springbokke het agtereenvolgende Wêreldbekertoernooie gewen, die Blitsbokke het hierdie seisoen die Seweskampioenskap gewen, en die Junior Bokke het agtereenvolgende Junior Wêreldkampioenskapstitels ingepalm. SA Rugby se hoofbestuurder vir hoë-prestasie, Dave Wessels, sê die Junior Bokke trek voordeel uit behoorlike skoolstrukture:
# Sokker: Spanje is weer boaan die mans-wêreldranglys nadat hy Argentinië verslaan het in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi. Argentinië is tweede en Frankryk derde nadat hy teen Engeland verloor het in die uitspeelstryd om derde plek. Engeland en Brasilië voltooi die top-vyf. Marokko is sesde, die beste in Afrika, terwyl Suid-Afrika ses plekke opgeskuif het tot 54ste. Noorweë het met twaalf posisies verbeter tot 19de nadat hy die eerste keer ooit die kwarteindronde gehaal het.
FIFA ondersoek intussen die onderonsie tussen Argentynse en Spaanse spelers tydens Sondag se eindstryd. Leandro Paredes het ‘n rooikaart gekry vir gewelddadige gedrag nadat hy Eric Garcia en ander Spaanse spelers gegryp en rondgestoot het. Nahuel Molina het blykbaar die Spaanse kaptein, Rodri, in die maag geslaan terwyl hy hulle oorwinning gevier het. Argentinië se hulp-afrigter, Roberto Ayala, het ook probeer om Dani Olmo te slaan. FIFA sê ‘n dissiplinêre en etiese aanklaer sal moontlike oortredings van die dissiplinêre kode ondersoek.
# Tennis: Die Vroue-tennisvereniging sê spelers sal eenmalig getoets word vir die SRY-geen wat deel is van die Y-chromosoom en veroorsaak dat manlike eienskappe ontwikkel. WTA-reëls het voorheen toegelaat dat transgender-vroue deelneem indien hulle verklaar dat hulle vroue is, en vir twee jaar voor deelname ‘n laer testosteroonvlak handhaaf. Spelers wat weier om getoets te word, kan tugstappe verwag. WTA sê die beleid is ontwerp om regverdige kompetisie te verseker vir alle spelers wat aan toernooie deelneem.
# En fietsry: Deelnemers aan die uitmergelende Tour de France is woedend omdat ryers in die middel van die nag wakker gemaak word vir opkikkertoetse. Die verdedigende kampioen, Tadej Pogacar van Slowenië, het die situasie as onmenslik bestempel. Dit volg nadat die voormalige kampioen Jonas Vingegaard van Denemarke bevestig het dat hy om twee-uur die oggend wakker gemaak is, en Pogacar om vyf-uur. Vingegaard het Sondag aan die tydren onttrek na ‘n ongeluk tydens die 15de skof. Ander fietsryers beskryf die toetsing as ‘n algehele gebrek aan respek vir die deelnemers.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….