Nuus 09:00
BULLETIN 21 Julie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Reisigers van die DRK en Uganda moet gesondheidsvraelyste voltooi voordat hulle na Suid-Afrika reis
# Meer as sesduisend regeringswonings word ondersoek
# En sokker: FIFA ondersoek ’n bakleiery op die veld tussen Argentynse en Spaanse spelers
# Die Departement van Gesondheid het aangekondig dat mense uit die Demokratiese Republiek die Kongo en Uganda wat na Suid-Afrika reis, voor hul vertrek ‘n gesondheidsvraelys moet voltooi weens die Ebola-uitbreking. Die uitbreking is die vinnigste groeiende Ebola-epidemie ooit en het reeds die lewens van 930 mense in DRK, twee in Uganda en een in Frankryk geëis. Die departement sê die vraelys kan voltooi word tot 24 uur voor die reis na Suid-Afrika, ten einde gladde verwerking met aankoms te verseker.
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n ondersoek gelas na meer as ses-duisend-200 staatshuise wat deur regeringsamptenare bewoon word. Macpherson het ook ‘n plan versoek om eiendomme te identifiseer wat nie meer nodig is nie en verkoop, herontwikkel of uit die staat se portefeulje verwyder kan word. Hy sê die verkoop van onnodige eiendomme sal koste verminder en die regering toelaat om meer hulpbronne op dienslewering toe te pas:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, verwelkom die Hooggeregshof in Johannesburg se besluit om ‘n finale bevel aan die Nasionale Vervolgingsgesag se Batebeslagleggingseenheid toe te staan. Dit gee toestemming vir beslaglegging op bates van 326-miljoen-rand van die korrupsie-beskuldigde sakeman, Hangwani Maumela. Volgens ondersoekbeamptes is die bates verkry deur kontrakte van die Tembisa Hospitaal, waar onregmatige verkrygingsprosesse na bewering miljoene rand na die Maumela-sindikaat se rekeninge herlei het. Die departementele woordvoerder, Palesa Rammitlwa, sê die regering wil seker maak misdadigers se onregmatige rykdom word weggeneem:
# Amerika se weermag het gisteraand sy tiende agtereenvolgende vlaag aanvalle op Iran uitgevoer. President Donald Trump het Teheran gewaarsku dat hy sterk vergelding moet verwag nadat Amerikaanse soldate onlangs dood is. Amerika se Sentrale Bevel sê die jongste aanvalle was gemik op Iran se militêre bevelsentrums, maritieme vermoëns, missiel- en hommeltuig-lanseerpersele en lugafweerstelsels. Hy sê dis is om Iran se vermoë om handelsvaartuie in die Straat van Hormoes aan te val, te vernietig. Iran sê hy het wraak geneem deur teikens in Bahrein, Jordanië en Sirië aan te val.
# Sokker: FIFA ondersoek die onderonsie op die veld tussen Argentynse en Spaanse spelers tydens die Wêreldbeker-eindstryd Sondag in New Jersey. Leandro Paredes het ‘n rooi kaart gekry vir gewelddadige gedrag nadat hy Spaanse spelers, insluitend Eric Garcia, gegryp en rondgestoot het. Nahuel Molina het blykbaar die Spaanse kaptein Rodri in die maag geslaan terwyl hy die Wêreldbekeroorwinning gevier het. Argentinië se afrigter, Roberto Ayala, het ook probeer om Dani Olmo te slaan. FIFA sê ‘n dissiplinêre en etiese aanklaer is aangestel om moontlike oortredings van die dissiplinêre kode te ondersoek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-14-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-513-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-45-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-79-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….