Nuus 08:00
BULLETIN 21 Julie 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Motshekga sê Suid-Afrika sal nie in die VSA-Iran-konflik verstrengel raak nie
# Die Verkiesingskommissie sê politieke partye of kandidate wat valse inligting versprei, sal gestraf word
# En Donald Trump stel 50-persent-tariewe in op ‘n wye reeks Kanadese goedere
# Die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, sê Suid-Afrika sal nie betrokke raak by die konflik tussen Amerika en Iran nie, en bly by sy onverbonde buitelandse beleid. Die regering hou vol dat die land ‘n beleid handhaaf wat gebaseer is op soewereine gelykheid, wedersydse respek en nie-inmenging. Minstens drie-duisend-468 mense is na bewering dood in Amerika en Israel se aanvalle op Iran. Motshekga sê Suid-Afrika handhaaf diplomatieke bande in verskillende streke:
# Die Verkiesingskommissie sê die Verkiesingsgedragskode oor die Bekamping van Waninligting is daarop gemik om ‘n meer betroubare inligtingsomgewing te skep deur weerstand teen valse inligting, manipulering en gekoördineerde oneerlike aanlyngedrag te versterk. Dit is vandag die sluitingsdatum vir openbare kommentaar oor die nuwe kode, wat tot straf kan lei vir politieke partye en kandidate wat doelbewus valse inligting tydens verkiesingsveldtogte versprei. Die ondervoorsitter van die Kommissie, Janet Love, het aan die SABC gesê die kode bevorder etiese kommunikasie, deursigtigheid en verantwoordbaarheid:
# Die Gauteng Nasionale Taxi-alliansie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-raad dreig met ʼn provinsiale staking indien hul eise nie binne sewe dae aangespreek word nie. Die verenigings beskuldig die provinsiale regering dat hy nie betekenisvol met die bedryf kommunikeer nie. Hulle noem kwessies soos die uitreiking van bedryfslisensies en swak beraadslaging oor vervoerbeleid. Die voorsitter van die Gauteng Nasionale Taxi-Alliansie, Mpho Motsepe, sê die taxi-bedryf se verhouding met die LUR van Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het heeltemal verbrokkel:
# President Donald Trump van Amerika het 50-persent-tariewe ingestel op ʼn reeks Kanadese produkte. Dit wissel van alledaagse verbruikersitems soos wyn en hokkiestokke tot nywerheidsprodukte soos sement en elektriese ware. Hy sê dis weens Kanada se diskriminerende hantering van Amerikaanse uitvoerprodukte soos voertuie, suiwel en alkohol. Die nuwe tariewe sluit energie-produkte, vis, noodsaaklike minerale en potas uit. Dit sluit ook produkte uit wat reeds tariewe op het en gemik is op die beskerming van nasionale veiligheid, soos staal en aluminium. Die tariewe word binne 30 dae van krag.
# Tennis: Die Vroue-tennisvereniging sê spelers sal eenmalig getoets word vir die SRY-geen wat deel is van die Y-chromosoom en veroorsaak dat manlike eienskappe ontwikkel. WTA-reëls het voorheen toegelaat dat transgender-vroue deelneem indien hulle verklaar dat hulle vroue is, en vir twee jaar voor deelname ʼn laer testosteroonvlak handhaaf. Spelers wat weier om getoets te word, kan tugstappe verwag. WTA sê die beleid is ontwerp om regverdige kompetisie te verseker vir alle spelers wat aan toernooie deelneem.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-81-sent teen die euro en 22-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-426-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-47-dollar-65-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….