Nuus 07:00
BULLETIN 21 Julie 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê die verandering in wêreldwye geopolitiek is ‘n geleentheid om die verdedigingsbedryf te herbou
# Donald Trump waarsku oor sterk vergelding teen Iran vir die dood van Amerikaanse troepe
# En rugby: Die president van SA Rugby sê onlangse oorwinnings weerspieël die diepte van Suid-Afrikaanse rugby
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, vra ‘n gekoördineerde benadering om Suid-Afrika se verdedigingsbedryf te laat herleef. Hy sê die bedryf is op die voorpunt van presisie-vervaardiging, stelsel-ingenieurswese en tegnologiese soewereiniteit. Hy het gister die hoofrede gelewer by die Verdedigingsbedryf-lekgotla by die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad in Pretoria. Tau erken dat die bedryf die afgelope drie dekades ten gronde gegaan het weens Suid-Afrika se besnoeiing aan verdediging:
# Business Leadership South Africa sê Suid-Afrika se ekonomie het meer veerkragtig teen globale skokke geword, danksy verbeterde fiskale dissipline, ekonomiese hervormings en ‘n sterker finansiële sektor. In haar weeklikse nuusbrief het die uitvoerende hoof, Busisiwe Mavuso, gesê die land se bestendige geldeenheid tydens die onlangse konflik tussen Israel en Iran toon die voordele van hierdie hervormings. Mavuso het die regering aangespoor om strukturele hervormings in energie, vervoer en infrastruktuur te versnel om Suid-Afrika meer veerkragtig te maak teen toekomstige globale uitdagings.
# Gauteng se LUR vir Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, het die regering se verbintenis tot ʼn opbouende en deursigtige vennootskap met die taxi-bedryf herbevestig, terwyl die bestuur in die lisensiëringstelsel versterk word. Die provinsiale taxi-bedryf beskuldig die LUR dat die uitreiking van bedryfslisensies, wat nodig is om taxi’s op die pad te hou, vertraag word. Diale-Tlabela sê die huidige hersiening van die lisensiëringsmodel is ʼn noodsaaklike ingryping oor kommer wat deur die bedryf self gelug is:
# President Donald Trump waarsku Iran om streng vergeldingsaanvalle te verwag na die dood van Amerikaanse soldate. Dit volg nadat ʼn Amerikaanse weermaglid Saterdag in die noorde van Irak dood is. Twee ander is Vrydag in aanvalle in Jordanië dood wat die sterftesyfer onder soldate op 17 te staan bring. In ʼn inskrywing op Truth Social sê Trump elke keer wat Iran ʼn Amerikaanse soldaat doodmaak, gaan hulle oor en oor daarvoor betaal. Hy sê hy het sy opdrag aan die top militêre gesag oorgedra.
# Rugby: Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê die onlangse oorwinnings van die Springbokke, Blitsbokke en die Junior Bokke weerspieël die diepte van hul strukture, die uitnemendheid van afrigting en die veerkragtigheid van die spelers. Die Springbokke het agtereenvolgende Wêreldbekers gewen, die Blitsbokke het hierdie seisoen die Seweskampioenskap gewen, en die Junior Bokke het agtereenvolgende Junior Wêreldkampioenskapstitels ingepalm. SA Rugby se hoofbestuurder vir hoë-prestasie, Dave Wessels, sê die Junior Bokke trek voordeel uit behoorlike skoolstrukture:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-50-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 65-duisend-422-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-29-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 86-dollar-74-sent per vat.
# En ten slotte: Die Neurologiese Vereniging van Suid-Afrika vra die publiek op die vooraand van Wêreldbreindag Woensdag om die waarskuwingstekens van ‘n beroerte te herken en onmiddellik mediese hulp te soek. Die vereniging waarsku dat byna twee-miljoen breinselle elke minuut tydens ‘n beroerte verlore kan raak. Patty Francis van die organisasie sê Suid-Afrika het te kampe met ‘n tekort aan neuroloë en ongelyke toegang tot spesialissorg, terwyl tot 90-persent van beroertes met voorkombare risikofaktore soos hoë bloeddruk, diabetes en hoë cholesterol verband hou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….