Nuus 16:00
BULLETIN 20 Julie 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Andy Burnham is die nuwe Britse eerste minister
# Die polisie is vol vertroue in sy saak teen Matlala
# En rugby: Die All Blacks verklein die gaping tussen hulle en die Springbokke ná hulle oorwinning oor Ierland
# Andy Burnham is die nuwe Britse eerste minister nadat koning Charles hom in Buckingham-paleis genooi het om ‘n nuwe regering saam te stel. Burnham het die versoek aanvaar nadat Keir Starmer vanoggend formeel bedank het. Burnham het Vrydag die nuwe leier van die Arbeidersparty geword, en word die vyfde eerste minister in vier jaar. Hy het sy eerste amptelike toespraak voor Downingstraat 10 gelewer:
Terug in Suid-Afrika:
# Die polisie sê die staat het ‘n sterk saak teen die sakeman Vusimusi “Cat” Matlala en sy medebeskuldigdes in die Hooggeregshof in Johannesburg. Hulle staan tereg op elf aanklagte van poging tot moord in drie skietvoorvalle. Die mediapersoonlikheid Tebogo Thobejane, wat saam met haar 18-jarige vriendin ‘n sluipmoordpoging op die N1 naby Sandton oorleef het, was in die hof. Die vriendin is permanent gestremd. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê geregtigheid moet geskied:
# AfriForum is gereed om Graaff-Reinet in die Oos-Kaap se hernoeming na Robert Sobukwe Town in die Hooggeregshof in Pretoria te betwis. Die Departement van Sport, Kuns en Kultuur en die Suid-Afrikaanse Geografiese Naamraad sal die aansoek teenstaan. Alana Bailey van AfriForum sê die naamsverandering is ongrondwetlik en beskerm nie die dorp se geskiedkundige en kulturele erfenis van 240-jaar nie. Sy waarsku oor skade aan toerisme en die plaaslike ekonomie:
# Die Departement van Binnelandse Sake het die vereiste vir mediese verslae geskrap vir aansoeke om permanente verblyf en tydelike verblyfvisums wat binne Suid-Afrika ingedien word. Die kwytskelding, onderteken deur minister Leon Schreiber, het onmiddellik in werking getree nadat dit in die Staatskoerant gepubliseer is. Aansoekers wat buite Suid-Afrika om tydelike verblyfvisums aansoek doen, moet steeds mediese verslae indien. Schreiber sê die stap sal vertragings verminder en die immigrasie-aansoekproses vereenvoudig terwyl openbare gesondheids-voorsorgmaatreëls gehandhaaf word.
# Rugby: Die All Blacks het die gaping tussen hulle en die Springbokke boaan die wêreldranglys verklein na Saterdag se oortuigende oorwinning van 40-21 oor die derde-geplaaste Ierland in Auckland. Suid-Afrika het nie soveel punte verdien nadat hy Wallis 43-0 verpletter het nie. Wallis skuif op na elfde plek en Italië sak terug na twaalfde na hulle nederlaag teen die Wallabies. Frankryk is vierde na hy Japan geklop het, gevolg deur Engeland, Skotland, Argentinië, Australië en Fidji, terwyl Japan die top-tien voltooi.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-48-sent teen die dollar, 18-rand-82-sent teen die euro en 22-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 64-duisend-654-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-11-dollar-83-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 86-dollar-65-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….