Nuus 11:00
BULLETIN 20 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die regering se reaksie op die land se waterkrisis fokus op volhoubare, langtermyn-hervorming
# Rubio sê Amerika is steeds bereid om ‘n diplomatieke oplossing met Iran te oorweeg
# En sokker: Mbappé wen die Wêreldbekertoernooi se Goue Stewel en Rodri is aangewys as beste speler
# President Cyril Ramaphosa sê die regering reageer op die behoefte om toegang tot veilige en betroubare water aan gemeenskappe uit te brei deur die nasionale program om toegang tot water te versnel. Die program is veronderstel om die tyd tussen die identifisering van ‘n gemeenskap se behoefte en die lewering van water te verkort. Ramaphosa erken in sy weeklikse nuusbrief dat die regering in te veel munisipaliteite nie waterinfrastruktuur onderhou het nie. Hy sê hulle het oor die volgende drie jaar 156-miljard-rand aan water- en sanitasie-infrastruktuur toegeken.
# Die DA het ‘n aansoek ingedien ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting om die polisie en die Weermag se tussentydse verslag oor Operasie Prosper te bekom. Woordvoerder Nicholas Gotsell sê daarsonder kan geen antwoorde of tasbare oplossings gebied word aan bende-geteiserde gemeenskappe nie. Hy sê waarnemende minister Firoz Cachalia het reeds erken dat nie ‘n enkele bende ontbind is na drie maande se ontplooiing nie:
# ActionSA sê die regering laat steeds die families van Pretty Nkambule, Yvonne Mnisi en Solomon Nyirenda in die steek. Dit was Donderdag tien jaar sedert ‘n pilaar ondergronds ineengestort en ‘n vraghouer met die drie mynwerkers in die Lily-myn naby Barberton in Mpumalanga begrawe het. Hul liggame is nooit gevind nie. Omogolo Taunyane van ActionSA sê die party het sedert hy by hierdie saak betrokke is, meer as vier-miljoen-rand net aan regskoste bestee om geregtigheid in die howe te vra:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê sy land is steeds bereid om ʼn diplomatieke oplossing met Iran te bereik. Amerika se Weermag het gisteraand die negende agtereenvolgende nag aanvalle op Teheran uitgevoer. Die afgelope drie weke is minstens 50 mense dood en meer as 500 beseer. Sewentien Amerikaanse soldate is in die konflik dood. Rubio sê Iran kan nie aanspraak maak op ʼn ooreenkoms van verstandhouding as hy die bepalings daarin oortree nie.
# Sokker: Frankryk se kaptein, Kylian Mbappé, het die eerste speler geword om ‘n Wêreldbekertoernooi se Goue Stewel twee keer te wen. Sy tien doele maak hom die Wêreldbeker se beste doelskieter ooit met altesaam 22. Rodri, wat ‘n sleutelspeler was in Spanje se opmars na ‘n tweede titel, het die Goue Bal vir beste speler gewen en sy 19-jarige spanmaat, Pau Cubarsi, is beste jong speler. Unai Simón van Spanje het die Goue Handskoen vir beste doelwagter ontvang nadat hy in agt wedstryde net een doel afgestaan het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-54-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-26-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-833-dollar. Die prys van goud is vier-duisend-en-5-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 88-dollar-66-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….