Nuus 11:00
BULLETIN 18 Julie 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu is bekommerd oor die gebrek aan ingryping by munisipaliteite in finansiële nood
# Minister Kubayi en Andy Mothibi kyk na die geloofwaardigheid van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie
# En krieket: Die Windies-legende Garry Sobers sterf in die ouderdom van 89
# Cosatu sê hy bly uiters bekommerd oor die gebrek aan omvattende ingrypings om die groot aantal munisipaliteite in finansiële nood bestendig te kry en te herbou. Cosatu sê daar is tentatiewe vordering in 42 wanbetalende munisipaliteite wat reageer het op die Nasionale Tesourie se tydelike terughouding van fondse en die geleidelike vrystelling van hierdie betalings. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê dis verstommend dat hierdie munisipaliteite nog geen planne voorgelê het om op die Tesourie se oproep tot optrede te reageer nie:
# Die minister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Mmamoloko Kubayi, en die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging, Andy Mothibi, het ernstige kommer uitgespreek oor verwikkelinge wat voortspruit uit die Madlanga-kommissie. Dit volg nadat getuies ernstige bewerings gemaak het oor die optrede van die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se amptenare en leierskap. Die departement se woordvoerder, Palesa Rammitlwa, sê die bewerings veroorsaak ernstige vrae oor die geloofwaardigheid van die instelling en het ‘n merkbare uitwerking op openbare vertroue in sy werksaamhede:
# Die polisie sê Operasie Prosper behaal steeds beduidende sukses met die ontwrigting van onwettige mynboubedrywighede en die uitwissing van misdaadsindikate wat in verlate en aktiewe mynbougebiede in Gauteng werksaam is. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê 20 onwettige mynwerkers is Vrydag in die provinsie in hegtenis geneem, en 19 was onwettige buitelandse burgers. Sy sê tussen April en Junie vanjaar is 793 verdagtes, insluitend 595 onwettige immigrante, in hegtenis geneem, tydens gesamentlike operasies tussen die polisie en die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in Gauteng:
Intussen veroordeel die UDM onwettige mynbou en misdaadsindikate, asook die mense wat dit organiseer, finansier en daaruit wins maak. Dit volg na die dood van twee lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag wat tydens ‘n operasie teen onwettige mynbou by ‘n myn in die weste van Johannesburg in ‘n verlate mynskag geval het. Die UDM-president, Bantu Holomisa, sê Suid-Afrika kan nie toelaat dat verlate mynskagte vir misdadigers toeganklik bly nie. Hy sê onwettige mynnetwerke moet geïdentifiseer, ondersoek en ontmantel word deur gekoördineerde en volgehoue wetstoepassing.
# Krieket: Garry Sobers, waarskynlik die veelsydigste speler van alle tye, het in die ouderdom van 89 gesterf. Wes-Indiese Krieket het in ‘n huldeblyk gesê ‘n wonderlike boulbeurt het tot ‘n einde gekom en Sir Garfield Sobers sal altyd in mense se harte voortleef. Sobers het tussen 1954 en 1974 in 93 toetse vir die Wes-Indiese Eilande gespeel. Hy het agt-duisend-32 lopies teen ‘n gemiddeld van net minder as 58 per boulbeurt aangeteken en 235 paaltjies vir net meer as 34 lopies elk geneem. Baie krieketliefhebbers sal hom egter veral onthou as die eerste speler wat ses sesse in ‘n enkele boulbeurt gemoker het.
# En ten slotte: Mount Taishan en SANParke het ‘n samewerkingsooreenkoms onderteken wat ‘n belangrike mylpaal is in die versterking van internasionale samewerking oor bewaring en volhoubare ontwikkeling. Dit bou voort op die jarelange vennootskap tussen die Wes-Kaapse regering en die Shandong-provinsie. Die nuwe ooreenkoms bied ‘n raamwerk vir samewerking op gebiede soos bewaring van bioverskeidenheid, die bestuur van beskermde gebiede, volhoubare toerisme, omgewingsopvoeding, klimaatveranderingaanpassings en die uitruil van kennis en kundigheid. Die uitvoerende hoof van SANParke, Hapiloe Sello, sê die vennootskap weerspieël ‘n gedeelde verbintenis tot die beskerming van natuurlike erfenis, terwyl dit ook geleenthede vir volhoubare toerisme skep.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….