Nuus 13:00
BULLETIN 17 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika bou spesiale ekonomiese sones wat wêreldwyd kan meeding
# Meiringspoort sal teen Desember heropen ná tydelike herstelwerk
# En krieket: Die eendagreeks tussen Engeland en Indië word Sondag op Lord’s beslis
# President Cyril Ramaphosa sê spesiale ekonomiese sones is nie net aangewese nywerheidspersele nie, maar aandrywers van ekonomiese hervorming. ‘n Onlangse beoordeling van die Wêreldbank toon Suid-Afrika se sones het meer as 34-miljard-rand se beleggings gelok, meer as 30-duisend regstreekse werksgeleenthede geskep en meer as 14-miljard-rand tot die fiskus bygedra. Ramaphosa sê die regering gaan voort om die program vir spesiale ekonomiese sones te versterk en seker te maak dit bly mededingend:
# Die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, sê die regering bly verbind tot samewerking met tradisionele leiers, gesinne, gemeenskappe en alle belanghebbendes om alle sterftes en beserings by inlywing-skole te verhoed en onwettige skole uit te roei. Hy sê 43 ingewydes het tydens die winter-seisoen gesterf en 12 ontvoerings is aangemeld. Altesaam 58 onwettige skole is identifiseer, waarvan 42 reeds gesluit is. Hlabisa sê 180 ingewydes is gered, 75 is in die hospitaal opgeneem en drie aanrandingsgevalle en ‘n besering is aangeteken.
# Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, sê die provinsiale regering wil Meiringspoort so gou moontlik heropen om werksgeleenthede en mense se voortbestaan te beskerm. Die roete, wat die Klein- en die Groot-Karoo verbind, is erg beskadig tydens onlangse stormweer. Winde sê indien toestande gunstig bly, sal ʼn tydelike oplossing binne ses maande verseker dat die pad heropen, maar met streng toegangsbeheer-maatreëls van krag:
Nuus uit die buiteland:
# Twintig leerders en ‘n volwassene is dood in ‘n busongeluk in die Kapchorwa-distrik in Uganda. Verskeie mense is beseer. Voorlopige ondersoeke toon die bus het meganiese probleme ontwikkel voordat die bestuurder beheer verloor het op Chekwatit-heuwel. Die voertuig het teen ‘n groot rots gebots en omgeslaan. Die bus het leerders van die King David Junior School vervoer wat teruggekeer het van ‘n studietoer. Die minister van Plaaslike Regering, Balaam Ateenyi Barugahara, sê ‘n ondersoek is van stapel gestuur.
# Krieket: Die eendagreeks tussen Engeland en Indië sal Sondag op Lord’s in Londen beslis word nadat die gasheer gisteraand die reeks gelykop gemaak het. Indië het die eerste kragmeting in Bristol met 56 lopies gewen, en Engeland het in Cardiff teruggeslaan. Indië is in 44 boulbeurte vir 233 uitgeboul na Jofra Archer en Gus Atkinson elk drie paaltjies geneem het. Joe Root se onoorwonne 99 het Engeland in die 45ste boulbeurt tot ‘n oorwinning gelei met ses paaltjies plat. Gurnoor Brar het twee paaltjies laat kantel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 16-rand-49-sent teen die dollar, 18-rand-86-sent teen die euro en 22-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-901-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-999-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 84-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….